Sondagoggend besluit ons (ek, my ma en twee vriendinne) ons staan vroeg op om George toe te gaan, en besluit om iets ligs in Wilderness te gaan eet. Net na 12:00 is ons klaar en nogal in ons noppies, omdat ons nog vroeg genoeg sal wees vir ’n heerlike Sondagmiddagslapie.
In die Kaaimanspas kom die verkeer tot stilstand. ’n Motoris lig ons in dat daar ’n ongeluk was en albei die bane is versper vir verkeer. Ons draai maar om en keer ook terug na Wilderness.
Hoe nou gemaak, hoe lank gaan hierdie ongeluk neem om opgeruim te word en is daar ’n alternatiewe roete?
Gelukkig is ek op verskeie munisipale mediagroepe en kan die vordering kort-kort volg. Dit laat my dink aan hoe belangrik koerante is. Of dit ’n nasionale nuuskoerant, of plaaslike privaat- koerant is. Elkeen het ’n impak, lesersbasis, teikenmark en merk wat hy maak met gedrukte koerant asook sosiale mediabladsye op Facebook, Instagram, Threads en TikTok.
Nodeloos om te sê, mens kan net soveel roomys eet in ’n tydperk. Ons het op die einde by ’n baie mooi hotel, met ’n ongerepte seeuitsig gaan sit, elkeen besig met iets waarvoor ons nooit tyd kry nie. Een lees ’n boek, die ander een speel kaarte, en later speel jy speletjies op jou foon, mits die battery hou.
Vyf ure later sit ons in die lang ry saam met talle ander en wag vir ons beurt om deur die pas te kom met’n stop/ry sisteem wat in plek is. Dit duur twee ure van Wilderness om verby die winkelsentrum in George te kom. Persone wat gewag het tot later, het ook twee ure geneem. Sondagaand net na 19:00 stap ek by my huis in, dit was ’n lang dag propvol niks-doen wat uitputtend was. En dan besef mens eintlik hoe uitgelewer jy is, sou jy vassit ver weg van jou huis.
Dan is ek dankbaar vir koerante wat inligting deel sodat mens darem ’n sin van beheer oor die situasie voel. Dit is amper asof dit jou troos, al weet jy, jy kan niks daaraan doen nie. (ANGELIQUE ERASMUS)
Beheer in ’n beheerlose situasie
Foto: Garden Route Munisipaliteit