Raadslid Jongilizwe Tyatya (links) by David McGibbon van Umvoto, die raadgewende geohidroloë vir die Blossoms-projek, tydens ’n besoek deur raadslede aan die projek in September 2018. Dié boorgat is een van dié wat gekoppel sal word met die pyplyn na Oudtshoorn. Die water spuit hier onder eie druk uit. Foto verskaf
Deur Liesel le Roux
HOEWEL die vlak van die Raubenheimerdam tans effens hoër is as die damvlak van ’n jaar gelede, is Oudtshoorn sigbaar valer en droeër met kommer oor die somermaande wat voorlê.
“Die droogtekrisis is beslis nie verby nie en mense moet asseblief die vereistes van die vlak 4-waterbeperkings nakom en ernstig opneem,” sê Chris Swart, senior bestuurder: water en riool by die Oudtshoorn Munisipaliteit.
Vlak 4-waterbeperkings geld vir alle inwoners van die Groter Oudtshoorn (De Rust en Dysselsdorp ingesluit) wanneer die vlak van die Raubenheimerdam onder 40% is. Op Vlak 4 word huishoudings versoek om hul waterverbruik af te bring na 12 kiloliter per maand. ’n Advertensie met al die voorskrifte van vlak 4-waterbeperkings verskyn vandeesweek op bladsy 8 in Die Hoorn.
Swart het ’n beroep op inwoners gedoen om water baie versigtig te gebruik. “Ons hoop op September-reën, maar ons is tog bekommerd dat dit nie kan realiseer nie. Verlede jaar einde Julie was die damvlak 30%, einde Augustus 31%, maar toe het dit begin reën en was dit einde September 42% en in Desember 53%. In Januarie het dit gedaal tot 42%, en sedertdien lê die damvlak onder 40%.”
Tans staan dit op 39%, en het nie veel gewissel deur die herfs en winter nie. Met die min reën in Augustus het die damvlak egter nou begin daal. Sneeu op die Swartberge vul volgens Swart die damme ook aan, maar nie met dieselfde intensiteit as goeie reënbuie nie. Sneeu op die berge help egter baie dat die toevoerriviere vir langer tye aanhou vloei.
Volgens Swart is daar in hierdie stadium sonder enige verdere reën genoeg water in die Raubenheimerdam vir 180 dae (ses maande), terwyl die Melvilledam, wanneer dit 100% vol is, nog water vir 30 dae kan verskaf.
Hy sê egter verdere stappe sal gedoen word, indien die watersituasie meer kritiek raak. “Ons kan byvoorbeeld voordat dinge regttig kritiek raak, iets kan doen soos wat Kaapstad gedoen het, en dit is om water te beperk tot sê byvoorbeeld slegs 50 liter per persoon per dag.”
Goeie nuus egter is dat die Blossoms-diepwaterprojek – ’n eerste vir Suid-Afrika – op koers is nadat die nasionale Departement van Water en Sanitasie bedrae van R30 miljoen en R20 miljoen vroeër vanjaar daarvoor beskikbaar gestel het as ’n droogtehulpskema vir Oudtshoorn. Die ontwerp van die pyplyn en die invoerstelsel van die water in die Oudtshoorn-waternetwerk is reeds afgehandel asook die tenderproses, met vandag die afsnydatum vir tenders.
“Ons hoop dat werk reeds vanjaar sal afskop en die projek teen Oktober 2020 water aan die dorp sal kan begin lewer.”
Blossoms sal sowat 5 Ml (megaliter) per dag aan Oudtshoorn kan lewer; die helfte van die huidige waterverbruik op die dorp, en groot verligting bring.
Hy het ook sy dank uitgespreek teen die meerderheid inwoners wat saamwerk om water te spaar met die daaglikse gebruik van water van die dorp wat van tussen 11 en 12 ML/dag in Augustus 2017 tot gemiddeld 10ML/dag gedaal het.
Johan Uys, bestuurder grootmaatwater by die munisipaliteit, sê die Klein Karoo wat in ’n waterskaars gebied geleë is, het voor die huidige droogte vir bykans 10 jaar lank redelik baie water gehad. “Dit is eintlik ook ongewoon. In 2012 het die Raubenheimerdam vir ’n tydperk van ses maande lank gereeld oorgeloop!”
Ten opsigte van die loslating van water uit die Raubenheimerdam vir watergebruikers stroom-af – wat ingevolge ooreenkomste tussen dié watergebruikers en die munisipaliteit tydens die bou van die dam aangegaan is en verpligtend is in Januarie, Februarie en Maart – geld dit nie as die damvlak onder 34% daal nie. Indien die damvlak tussen 34% en 44% lê, word loslatings slegs pro rata gedoen.