Donson, Meshoa, Ruiters uit nadat wantrouemosie slaag

Die nuwe leiers van die Kannaland-raad wat Woensdag verkies is, is van links Rodge Albertus (speaker, KIP), Nicky Valentyn (burgemeester, ANC), Leonie Stuurman (onderburgemeester, ANC) en Aletta Steenkamp (Tuinroete-verteenwoordiger, DA). Foto verskaf

DIE charismatiese en omstrede Jeffrey Donson van Kannaland is nie meer die burgemeester van dié munisipaliteit in die Klein Karoo nie, terwyl sy party, Icosa, ook nie meer die Kannaland-raad beheer nie.

Donson is Woensdag tydens ’n spesiale raads­vergadering in die stadsaal op Calitzdorp as burgemeester verwyder toe die raadslede van die ander partye in die Kannaland-raad – die ANC, die Kannaland Independent Party (KIP) en die DA – ’n mosie van wantroue in hom ondersteun het.

Mosies van wantroue in twee ander Icosa-raads­lede, onderburgemeester Werner Meshoa en die verteenwoordiger by die Tuinroete Distriksmunisipaliteit, Hyrin Ruiters, was ook suksesvol.

Kannaland se nuwe verkose burgemeester en onderburgemeester is Nicky Valentyn en Leonie Stuurman, albei van die ANC. KIP se Rodge Albertus) is verkies tot speaker en die DA se Aletta Steenkamp) is die munisipaliteit se verteenwoordiger by die Tuinroete Distriksmunisipaliteit.

Donson se aanstelling as burgemeester van Kannaland in November 2021 het landwyd opslae gemaak en kritiek uitgelok toe dit bekend geword het dat hy in 2008 skuldig bevind is aan die statutêre verkragting van ’n 15-jarige meisie.

Meshoa is op sy beurt in 2021 skuldig bevind en gevonnis vir bedrog en dwarsboming van die gereg.

Die landwye negatiewe publisisteit rondom dié twee raadslede is van die redes wat die ANC, KIP en DA aangevoer het toe aansoek gedoen is dat ’n spesiale raadsvergadering gehou moet word.

’n Groot polisieteenwoordigheid was Woensdag op Calitzdorp sigbaar. (Deur Liesel le Roux)

1 Comment on "Donson, Meshoa, Ruiters uit nadat wantrouemosie slaag"

  1. Jy kan mos nie in vandag se tyd n veroordeelde verkragter burgerMeester maak nie. Dit werk mos nie so nie.

Comments are closed.