DK&J-sekretaresse groet na 53 jaar diens

In ’n tyd waarin langdiens ’n seldsame verskynsel geword het, spog die regsfirma, Duvenage Keyser & Jonck met ’n merkwaardige mylpaal – ’n werknemer wat na meer as 53 jaar diens aftree.

Hul geliefde sekretaresse, Mev. Lorraine Nortje, het op 1 Desember 1971 haar loopbaan as jong sekretaresse met ’n tikmasjien en vasberandenheid by die firma begin. Na 53 jaar en vyf maande se ononderbreke diens, tree sy nou af en verlaat die firma met dieselfde toewyding waarmee sy destyds begin het.

“Lorraine Nortje was vir ons nie net ’n administratiewe steunpilaar nie, maar ’n fondament van stabiliteit, vertroue, ervaring en lojaliteit in die kantoor,” sê Lezelma Pretorius, senior vennoot van Duvenage Keyser & Jonck. “Haar kennis van die regspraktyk, haar diskressie, en haar onwrikbare werksetiek het generasies regspraktisyns en kollegas geïnspireer.

Gedurende haar loopbaan het Lorraine gesien hoe die regs-wêreld verander – van tikmasjiene, handgeskrewe notas en fisiese lêers tot rekenaars en digitale lêerstelsels. Deur die jare het sy aangepas by die nuwe stelsels met volgehoue sukses. Vir haar was dit nooit net ’n werk nie, maar ’n passie en ’n roeping.

Die firma het haar onlangse aftrede met ’n spesiale geleentheid gevier, waartydens kollegas hul waardering uitgespreek het vir haar jarelange diens. Sy laat ’n nalatenskap van professionaliteit, lojaliteit en menslikheid agter – ’n nalatenskap waarop Duvenage Keyser & Jonck met trots sal voortbou.

“Ons sê dankie, Mev Lorraine Nortje. U het ’n onuitwisbare merk gemaak en sal altyd deel wees van die Duvenage Keyser & Jonck-familie.”