Die Arbeidsgenotkomitee wat Donderdag se feesvieringe van Afrikaans by Arbeidsgenot gereël het, is vuur en vlam om dié museum toenemend te bemark en ook om die Neelsie-teater aan te wend vir die gemeenskap.
Die komitee van sewe lede wat onder die vaandel van die Langenhoven Gedenkfonds gestig is, se eerste prioriteit was die viering van Afrikaans se 100 jaar as amptelike landstaal verlede Donderdag, 8 Mei.
Alle verwagtinge was oortref nadat al 100 beskikbare sitplekke in die Neelsie Donderdagaand gevul was.
Dit was vir die komitee ’n duidelike aanduiding dat daar ’n kultuurbehoefte onder inwoners is en dat Arbeidsgenot die ideale plek is om kultuurgeleenthede aan te bied.
Fondse wat met kaartjie-verkope vir Donderdagaand se program ontvang is, word weer aangewend vir volgende projekte.
Projekte word in oorleg met die Langenhoven Gedenkfonds beplan en voorgelê vir goedkeuring.
Die Afrikanerbond het reeds met die komitee kontak gemaak om van hulle kant af op 28 Mei ’n geleentheid ter viering van Afrikaans by Arbeidsgenot aan te bied en dan ook ’n boom te plant.
Die hoofkantoor van die KKNK is ook by Arbeidsgenot geleë en hulle maak reeds ’n reusebydrae om die terrein te onderhou en ekonomies tot Arbeidsgenot by te dra.
Die afgelope feesvieringe was dan ook in samewerking met hulle aangebied, waaroor die komitee uiters dankbaar is.
Die Arbeidskomiteelede is: Carl Coetzer, Christo Smit, Liezl McDuling, Suzette Basson, Peet Vermaak, Ilse Meyer en Hannes Visser.
Hulle volgende vergadering vind op Dinsdag 20 Mei plaas waartydens ’n terugskouing oor verlede week se program gehou sal word en nuwe projekte bespreek sal word.
Die volgende persone en instansies word bedank vir hulle bydrae tot die Afrikaans100 se sukses:
KKNK, ATKV, Karooboom restaurant, Oudtshoorn Tuisnywerheid, Karootuin Kwekery, Mariana Swanepoel, Alma Botes, Langenhoven Gedenkfonds, Maak Oudtshoorn Mooi, Heritage Oudtshoorn Erfenis, Drylands Event Management, Izak de Vries, Ockert du Pisanie, André Boezak, Lida en Johan Botha, die hoofleiers en personeel van Langenhoven Gimnasium en Hoërskool Langenhoven.
Arbeidsgenotkomitee volstoom aan die werk
Die Arbeidsgenotkomitee is, voor van links: Liezl McDuling, Hannes Visser en Peet Vermaak. Agter, van links is: Suzette Basson, Carl Coetzer en Christo Smit. Uitstedig: Ilse Meyer. Foto: Angelique Erasmus