Afrikaans se amptelike status by Arbeidsgenot gevier

Bo van links: James van der Merwe (Hoofseun, Langenhoven Gimnasium) en Zaid Hendricks (Hoofseun, Hoërskool Langenhoven) hys die vlag op 8 Mei. Mari Terblanche (Matriekraad, Langenhoven Gimnasium) en Mia Viljoen (Hoofdogter, Hoërskool Langenhoven) plaas blomme op die grafte van Langenhoven en sy vrou. Onder: Michael Smit, onderhoofseun van Langenhoven Gimnasium, plant een van die katjiepierings. Foto’s: Izak de Vries

Op Donderdag 8 Mei 2025 het senior leerders van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn en Hoërskool Langenhoven van Riversdal die landsvlag gehys by Arbeidsgenot. Daarna het twee ander blomme neergesit op die grafte van Langenhoven en Vroutjie, waarna katjiepieringbosse in Arbeidsgenot se tuin geplant is.

Die agtergrond tot hierdie handelinge is natuurlik dat Afrikaans op 8 Mei 1925 ’n amptelike status in die parlement verkry het, maar die vlaghysing, die plaas van blomme op die grafte en die plant van katjiepierings was nie lukraak nie. Daar is ’n storie agter hierdie storie.

Die vlag wat op 8 Mei 1925 bo die parlement gehang het, is teen sononder gestryk en is die volgende oggend, op 9 Mei, aan Langenhoven oorhandig, juis omdat Langenhoven, as ’n senator, baie gedoen het om die parlement te oortuig dat Afrikaans ’n waardige taal was, een wat gereed was om ’n amptelike status in te neem naas Engels.

Neelsie het daarna ’n vlagpaal geplant voor Arbeidsgenot en het elke jaar op 8 Mei die vlag, wat hy van die speaker ontvang het, gehys.

Ná sy afsterwe is die tradisie voortgesit deur leerders van die plaaslike skool, wat na Langenhoven vernoem is.

Die oorspronklike vlag, wat Langenhoven van die spreaker ontvang het, sou later te oud en broos word, so ’n replika is gebruik. Ná die koms van demokrasie in Suid-Afrika, is die nuwe landsvlag gehys, soos ook die geval was op 8 Mei 2025.

Die vlagpaal wat hier gebruik is, is ’n stewige, nuwe paal wat langs Neelsie en Vroutjie se grafte opgerig is. ’n Replika van Neelsie se oorspronklike, tuisgemaakte paal staan steeds voor Arbeidsgenot, maar is ook deesdae te broos om gebruik te word.

Tydens die hys van die vlag is Nkosi Sikilel’ iAfrika gespeel, waarna die volle amptelike volks-lied van Suid-Afrika gevolg het.

Hier is ook ’n storie aan verbonde. Enoch Sontanga, wat “Nkosi” geskryf het as ’n gesang vir sy kerk, is in 1873 gebore, net soos CJ Langenhoven wat “Die Stem” oorspronklik as ’n gesang geskryf het.

Dat die twee skrywers, wat in dieselfde jaar gebore is, se liedere nou Suid-Afrika sou verenig, is ’n besondere mooi nalatenskap.

Die twee grafte het ook ’n interessante storie. Beide Neelsie en Vroutjie is in die dorp se begraafplaas begrawe. Aangesien besoekers aan die dorp graag die grafte besoek het, is besluit om ’n formele herbegrafnis te doen te Arbeidsgenot. Besoekers kan dus nou die museum besoek, en die grafte. Alles in een stop.

Ook die katjiepieringbosse wat geplant is, was nie lukraak nie.

Neelsie het Vroutjie naamlik op 9 Mei in die Tuine ontmoet vir tee, waar die katjiepierings geblom het. Vroutjie het toe ’n steggie daarvan geneem om voor Arbeidsgenot te plant. Die reuk van die katjiepiering sou altyd die Langenhovens aan Afrikaans se amptelike status laat dink.

Die aand van 8 Mei 2025 is ’n viering van Afrikaans gehou in die Neelsie, ’n teater wat op Arbeidsgenot se gronde staan.

Hannes Visser, die digter, joernalis en uitgewer, het die verrigtinge gelei. Saam met hom op die verhoog was die akteurspaar Lida en Johan Botha, asook André Boezak, die digterdominee van Oudtshoorn.

Gedigte deur Langenhoven, waaronder “Die Stem” is voorgelees, maar ook vroeër werk soos “Di Afrikaanse Taal” deur Jan Lion Cachet, en “Vergewe en vergeet” deur Totius, asook vier ano-nieme gedigte uit Die groot Verseboek, “Al woon my bokkie nog so ver”, “Kelkie sonder voet”, “Die Kaapse Parlemint” en “Die apie hang aan die moerbeiboom”.

André Boezak het twee van sy eie gedigte, “G’n decent gebed” en “Skelm!” voorgelees. Hy het die aand afgesluit met die voorlees van “Nkosi Si-kilelel’ iAfrika” deur HA Fagan.

Melktert en koeksisters is daarna bedien, saam met koffie. Dit hoort mos so wanneer ons in Afrikaans kuier. (IZAK DE VRIES)