Tydens die spesiale raadsvergadering van Dinsdag 13 Mei het die uitvoerende burgemeester, Johan Allers, bevestig dat die minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell die aanstelling van Mkhululi Yekani as munisipale bestuurder goedgekeur het.
Daar is ook verlede maand goedkeuring ontvang vir die aanstelling van Ian Avontuur as direkteur van gemeenskapsdienste.
Die aanstelling van die hoof van finansies is Dinsdag tydens die vergadering in komitee hanteer. Na afloop van die in komitee vergadering het die speaker, Suzanne Jansen aangekondig dat Gerald de Jager in die pos aangestel is.
De Jager was op ’n kontrakbasis aangestel en was finansiële hoof toe Oudtshoorn met die vorige oudit ’n skoon oudit ontvang het. Sy permanente aanstelling is gister aangekondig na afhandeling van ’n formele aanstellingsproses.
Soos in die geval van die aanstelling van direkteure en munisipale bestuurders, moet sy aanstelling ook deur die minister bekragtig word.
Derhalwe is sy aanstelling ook nou aan Minister Bredell voorgelê vir bevestiging, waarna die aanstelling permanent is.
Die burgemeester, het na afloop van die vergadering gesê die permanente aanstellings beteken baie vir dienslewering aangesien Oudtshoorn die afgelope aantal jare amptenare gehad het wat in verskeie senior poste waargeneem het.
“Nou is al ons direkteursposte sowel as die pos van munisipale bestuurder permanent gevul, wat goed is vir dienslewering en kontinuïteit.”
Benewens dié aanstellings sê Allers ook dat die munisiplaiteit tans in die proses is met die prosedures om die pos van die direkteur van beplanning en ontwikkeling te adverteer.
“Hierdie is in enige munsisiplaiteit ’n uiters belangrike pos, want dit is die departement waar alle ontwikkeling en bouplanne goedgekeur word.
Dit is ook die departement waar toekomstige ontwikkelings en die ekonomiese ontwikkeling van die dorp plaasvind.”
Hy het bygevoeg dat die direkteur van beplanning en ontwikkeling ook verantwoordelik is vir toersime en om besigheidsgeleenthede vir die dorp te identifiseer en te fasiliteer.
“Hierdie is ’n absolute noodsaaklike pos wat ons so gou as moontlik volgens voorgeskrewe riglyne wil vul en daar is in die begroting ook voorsiening daarvoor gemaak.”
Senior-aanstellings deur munisipaliteit bevestig
Bo van links: Die uitvoerende burgemeester, Johan Allers, Gerald De Jager, hoof van finansies, Ian Avontuur, direkteur van gemeenskapsdienste en Mkhululi Yekani, munisipale bestuurder. (Foto’s verskaf)