Dieselfde gebeur nie op De Rust

Die hoogtepunt van 2016 was vir baie van ons natuurlik die munisipale ver­kiesing, veral die politieke verandering op Oudtshoorn. Maar soos die gebruik gewoonlik by politieke partye is, is daar weer baie beloftes gemaak wat sekere verwagtinge skep, die meeste net eenvoudig nie haalbaar nie, veral as jy nog boonop bankrot ook is.

Dis nou vyf maande na die ver­kiesing en nie veel het nog verander nie. Papiere, vullis en gemors lê steeds die hele wêreld vol. Kyk hoe lyk die ingange na die dorpe.

Binne Oudtshoorn is daar al ’n verbetering. Munisipale werkers is gereeld besig om vullis op te ruim, blombeddings en sypaadjies word skoon gehou, selfs op vakansiedae, maar dieselfde gebeur nie by ons op De Rust nie.

De Rust hanteer baie verkeer en besoekers, maar dis vuil en slordig. Ek wil graag by die DA weet, wie is verantwoordelik vir De Rust, wie is in beheer, en wie moet toesien dat dieselfde ook hier gedoen word?

Wat De Rust betref, sal die party en sy raadslid moet toesien dat daar sigbare verbetering in dienste op grondvlak aan die kiesers gelewer word of die party gaan aansien verloor.

Wat is dan die pligte en funksie van die raads­lid? In dié wyk het die party sedert 2011 steun verloor, en die keer slegs met ’n paar stemme behou.

Ons as belastingbetalers steier onder tariewe, baie hoër as ons buurdorpe. Al wat jy hoor, is dat die dorp bankkrot is. Dis is waar, maar die dorp is bankrot bestuur in julle as DA se teenwoor­digheid.

Wat het geword van die ondersoeke na korrupsie en wanbestuur? Dis stil, die publiek hoor dan niks.

– Albert Schoeman, De Rust