Ons woon eintlik almal in die GCBR

Waar jy nou besig is om die brief te lees – enige plek in die Klein Karoo tussen Montagu en Uniondale – is jy in die GCBR (die nommerplaat van die vorige Transkei). Dit is die Gouritz Cluster Biosphere Reserve, of in mooi Afri­kaans – die Gouritz Groep Bio­sfeerreservaat.

Dit is die enigste biosfeer in die wêreld waar die fynbos, sukkelente (vetplant-) Karoo en die subtropiese ruigteveld voorkom.

Dink aan enige reservaat soos Gam­ka­berg (wat nou deel is van die groter biosfeer). Daar is reëls om die omge­-wing vir die nageslag te beskerm. Jy ry nie vinnig nie, maak nie enige plek vuur nie, beskadig nie plante en bome nie, gedra jou nie luidrugtig nie, en vele meer.

Elkeen van die genoemde dorpe is nou ’n integrale deel van die biosfeerreservaat – die sypaadjie, jou tuin, die rivier en die fabrieke is nou deel van ’n reservaat.

Dis nou ernstig tyd vir die inwoners om hande te vat met die nuwe bestuur van Oudtshoorn. Dié groot dorp behoort die voorbeeld te stel om soos ’n reservaat bestuur te word.

’n Paar van die baie idees en wen­ke wat op ons almal van toepassing is om­dat ons in ’n biosfeer-reservaat woon:
• Kliënte hou nie daarvan om in ’n blou gerookte plek ontvang te word nie.
• Sorg vir ’n houer in jou motor vir die rommel.
• Moenie dat jou honde ’n ergernis vir jou medemens wees nie. Bestuur die geblaf en tel die mis op as jy met jou hond gaan stap.
• Vat jou eie inkopiesakke saam winkel toe.
• Maak bome nat en plant ekstra by jou werk. Jy is immers heeldag daar.
• Vervang uitheemse bome met inheemse bome (saad spoel van hier vir 200 km na Gouritzmond).
• Begin ’n kwekery by die skool – kinders bring opslag inheemse bome wat in tuine opkom.
• Stap uit en kyk – is jou besigheid, werkswinkel, huis en tuin esteties sodat dit die kantoor van die Gouritz Biosfeer kan wees?
• Ons moet deesdae op alles spaar om die aarde te red, maar moenie op ordentlikheid spaar nie, want dit kos niks.
• Plant ’n boom as jy verjaar; dis goedkoper as ’n partie.
• Dra ’n klein botteltjie met water en sit jou sigaretstompies daarin sodat dit nie oral hoef rond te lê nie.

– Katot Meyer, Oudtshoorn