Dienslewering kry hupstoot

Dienslewering op Oudtshoorn het ’n hupstoot gekry met ’n bakkie en ander toerusting wat die munisipaliteit kon aankoop danksy ’n toelaag (grant) wat die Wes-Kaapse regering se direktoraat Brand-, Redding- en Rampbestuur aan die munisipaliteit beskikbaar gestel het.

Die toelaag was ’n provinsiale inisiatief in die 2019/2020-boekjaar vir die aankoop van ’n 4×4-bakkie en toerusting soos brandslange, lugondersteuningsradio’s, kegels wat op paaie gebruik kan word en ’n kettingsaag. Die doelwit daarvan was om Oudtshoorn by te staan om dienslewering te verbeter.

“Die voertuig en toerusting sal deur brandbestryders in die Groter Oudtshoorn-gebied gebruik word,” sê Adel Supra-Vertue, die munisipaliteit se bestuurder brand, redding en rampbestuur.

Raadslid Johan Fourie, voorsitter van die gemeenskapsdienste-portefeulje wat die bakkie en toerusting amptelik in ontvangs geneem het, het die Wes-Kaapse regering vir die ondersteuning bedank.