Derde kinderboek vir Oudtshoorniet

Die kreatiewe skrywer en trotse ma van twee seuns, Charmaine Beneke van Oudtshoorn, het pas haar derde kinderboek, GPS for Boys, bekendgestel – ’n inspirerende boek met ’n verskil.

Dié splinternuwe boek is propvol kort, christenlike dagstukkies wat spesiaal vir seuns van die ouderdom van 2 tot 15 geskryf is. Dit bevat ook prettige aktiwiteite waarmee jong lesers hul geloof op ’n praktiese en interessante manier kan verken.

“Ek wil hê kinders moet die pad na Jesus ontdek en ook hul unieke doel in Sy koninkryk,” sê Charmaine. Sy glo dat elke kind ʼn spesiale doel in God se koninkryk dien.

“As ons in ons seuns en dogters van jongs af belê en hulle lei om die koninkryk van God te verstaan, sal hulle die wêreld verander,”sê sy.

Charmaine se skrywersreis het in 2022 begin en sedertdien het sy nie teruggekyk nie. In Februarie 2024 het sy haar eerste boek, Milka en Sebastiaan, gepubliseer, en teen September was die tweede avontuur van dié geliefde duo ook op die rakke. Daarmee saam het sy ook ’n aktiwiteitsboek vir dié reeks saamgestel.

Creative Partners van George wat in grafiese ontwerp, die ontwikkeling van webtuistes en sosiale media spesialiseer en ook omslagontwerp vir uitgewers doen, het GPS for Boys se volle produksie en ontwerp behartig. Die boek is deur Turksvy Publikasies uitgegee en is by die skrywer beskikbaar teen R250.
Kontak Charmaine Beneke vir enige navrae of bestellings by 076 291 3706 of stuur ’n e-pos na charmainevt@gmail.com. (ANGELIQUE ERASMUS)