Delport-moordsaak uitgestel

Die hofsaak teen Frank Delport (53), die eienaar van ’n konstruksie maatskappy in Oudtshoorn, is verlede Vrydag, 10 Mei, deur Landdros Van Rensburg uitgestel tot 31 Mei. Delport is op 8 Maart in hegtenis geneem nadat Flip Hendriks by ‘n petrolstasie in Bridgton doodgesteek is.

Die voorval het tussen 18:00 en 19:00 plaasgevind. Volgens getuienis in die hof met die borgaansoek het Delport vir Hendriks opgelaai en na Hendriks se huis gegaan waar hulle na bewering in ’n argument betrokke geraak het.

Hulle het weer saam gery vanaf Hendriks se huis, waarna Hendriks by die petrolstasie uit die bakkie gespring het met sy hemp vol bloed, en volgens ooggetuies ’n paar meter verder inmekaar gesak het. Volgens die ondersoekbeampte, adjudant offisier Van Rensburg, het die ooggetuies beweer dat Delport ook uit die bakkie gespring het en homself gesteek het.

Delport het daarna self na die Bridgton Polisiestasie gegaan, waarna hy met sy eie voertuig na die hospitaal is. Hy is behandel vir die vleeswond in sy regter sy, en daarna het die polisie hom gearresteer.

Delport pleit onskuldig op die moord van Hendriks. Volgens hom het hy uit selfverdediging opgetree. Borg van R3 000 is aan Delport toegestaan, met streng voorwaardes. Hy het aangevoer dat sy kinders en werknemers afhanklik van hom is vir inkomste.

Hy mag egter nie met enige van die staatsgetuies in aanraking kom of hulle probeer intimideer nie. Hy moet ook elke Woensdag en Saterdag by die Oudtshoorn polisiestasie aanmeld. (Deur Lindi Brill)