10 jaar tronkstraf vir roof

Vier mans van Rose Valley op Oudtshoorn wat skuldig bevind is aan roof met verswarende omstandighede is op Vrydag 3 Mei in die streekhof elk tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis.

Faizel Tarentaal (22), Frank Tiemie (39), Wayne Menson (28) en Brian Okkers (25) is daarvan aangekla dat hulle die aand van 18 Mei 2020 op ’n buitelandse spazawinkeleienaar, geskiet, hom aangerand en van R2 000 kontant beroof het.

Streeklanddros Ntsoki Moni het die beskuldigdes se weergawes dat hulle nie die betrokke aand by die winkel was nie as vals verwerp en bevind dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof vir ’n vonnis gevra wat andere sowel as die vier voor die hof sal afskrik.

Die hof het die tydperk van aanhouding vir vonnis in ag geneem en elk tien jaar tronkstraf opgelê. Hulle is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)