De Rust se Koktyls

Bo: Oom Swepie le Roux, ’n plaaslike wynboer poseer vir die kamera. Foto Maryna Cotton Onder: Niekie Eksteen pronk in Oktobermaand. Foto Maryna Cotton

Dertien brawe De Rusters het die “vere” laat waai vir ’n goeie doel.

Die manne het ingespring onder leiding van Maryna Cotton en Sarel van Staden, ook inwoners en fotograwe van De Rust en ’n Koktyls Kalender saamgestel, met dié inwoners wat poseer vir foto’s.

Die kalender bevat nie net foto’s van De Rust se Manskappe (Landskappe) nie, maar ook gunsteling koktyls (skemerkelkies) wat gewild is by verskeie watergate, kuierplekke of aan huis in die dorp.

Die inkomste wat uit die gewaagde kalender genereer word, word weer in die gemeenskap ingeploeg deur verskeie gemeenskapsprojekte te finansier soos sopkombuise, musiekprojekte vir kinders en ander infrastruktuurprojekte.

“Die brawe manlike De Rusters het al hul inhibisies in die wind gegooi, deur te waag om in hul adamsgewaad voor die kamera te sit of staan,” het Cotton aan Die Hoorn gesê.

Koop vandag nog jou kalender vir ’n goeie doel, en beproef 13 heerlike resepte. Alhoewel daar net 12 maande van die jaar is, wag ’n bonus foto en resep vanaf Julie 2024 tot Junie 2025.

Besoek gerus hul Facebook bladsy, De Rust Cocktales Calendar Koktyls Kalender vir meer inligting of stuur ’n boodskap na 082 857 0479 om jou kalender te bestel.