De Rust Primêr laat ‘rande inrol’ met hamburgerdag

’Lee Ann Blou lyk baie ingenome met haar hamburger. Foto’s: Geneve Slinger

’N BURGER is ’n burger of so sal ’n mens dink, maar die leerders van De Rust Primêr mag dalk verskil.

Hulle sal vir jou vertel daardie burgers van “Oom Johan en Oom Nico” is die lekkerste in die Klein Karoo. Daardie “patty” is so dik en sappig dat elke hap ’n kouplesier is wat jy hoop nooit einde kry nie. Daar was ook heelwat komplimente vir die “chefs” wat gesorg het vir die lekker “kool” en sous op die burgers. Die broodjie self was glo ook nie te versmaai nie.

Van die “koskenners” het gesê hulle sou nie omgee om aan ’n tweede hamburger weg te lê nie.

Dit is dan juis die hamburgers wat tot De Rust Primêr se suksesvolste fondsinsamelsveldtog nog gelei het. Daar is R26 180 ingesamel met die skool se “Hamburgerdag”.

Die skoolhoof, Keith Jones, erken dit het sy stoutste verwagting oortref.

“Die Rusters se gulhartigheid het my heeltemal onkant gevang. Suid-Afrika is te midde van ’n Covid-pandemie wat beteken daar is soveel onse-kerheid. Baie mense het al hul werk verloor. Vriende en familie is dood. Tog gee mense nog om. Daar is iemand wat R5 000 geskenk het en heelparty meer as R1 000. Op die ou einde is dit nie die grootte van die bedrae wat saak maak nie; elke sent wat ingesamel is, is belangrik vir ons skool.

“Die Hamburgerdag’ sou ook nie moontlik gewees het sonder al die bestanddele wat geskenk is nie. Ek kan nie genoeg dankie sê nie.”

Volgens Jones is die De Rust-gemeenskap volgens ’n maatskaplike studie wat ’n paar jaar gelede gedoen is, een van die armste gemeenskappe in Suid-Afrika.

“Dit is wyd bekend dat 15 uit elke 100 kinders in ons land elke aand honger gaan slaap en dat 30 uit 100 van die land se kinders se groei deur ondervoeding belemmer word. Dit dra by tot die oordrag van armoede, wanvoeding en swak gesondheid van geslag tot geslag.”

Die twee “ooms” van die Hamburgerdag, Johan de Villiers en Nico Grobler, het miskien ook dié dag ’n unieke Klein Karoo-rekord opgestel. Om 600 “patties” in minder as vier ure te braai wil gedoen wees.

De Villiers is in elk geval besig om ’n reputasie op te bou as De Rust se “Johan Braai”. Volgens hom is elke dag “braaidag”. Sy grootste uitdaging is nog net om sy gesin daarvan te oortuig… (Deur Wilhelm de Swardt)