Inwoners van De Rust, sowat 30 km vanaf Oudtshoorn was die afgelope tyd warm onder die kraag oor verskeie diensleweringkwessies wat hul dorp geraak het.
Een kwessie was die staking van die verwydering van tuinvullis, wat daarna gelei het tot die ophoping van tuinvullis in die dorp.
De Rust se tuinvullis is voorheen saam met hul huishoudelike vullis verwyder, maar die diens is onlangs gestaak sonder enige kennis aan inwoners.
Tydens ’n vergadering op 18 Januarie het inwoners gevoel dat die diens wat hulle ontvang nie die bedrag wat hul maandeliks betaal die vlak van dienste ontvang regverdig nie.
Ander kwessies wat ook tydens hierdie vergadering bespreek is, is die Blomnek stortingsterrein wat in ’n swak toestand is, die water kanale wat beskadig is weens baie reën, sowel as die gemors wat daarin weggegooi word en deur inwoners skoongemaak moet word.
Tydens ’n opvolgvergadering op 25 Januarie 2024, is die vergadering deur Johan Allers, die Speaker van die Oudtshoorn Munisipaliteit bygewoon, asook Nigel Everts, waarnemende dorpbestuurder van De Rust.
Die bostaande kwessies is tydens die vergade-ring bespreek en oplossings vir die probleme is intussen gevind.
Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit het op Die Hoorn se navraag oor die kwessies die volgende terugvoer gegee.
Die verwydering van tuinvullis sal weer hervat word.
“Dit sal op Dinsdae verwyder word, in anderskleurige sakke wat die eienaar self moet voorsien.”
Tuinvullis sal ook apart van huisvullis opgelaai word. Inwoners is tydens die vergade-ring ingelig dat die verwydering van tuinvullis in die verlede ’n gratis diens was.
Oor die stortingsterrein by Blomnek het Mle gesê dat die opgradering en bemanning daarvan vir hulle ’n prioriteit is.
Een van die besprekingspunte was die aanhou van varke in hokke naby een van die uitbreidings.
“Diere soos varke, skape, beeste, donkies, perde ens. behoort nie tussen woongebiede of mense te lewe nie, dit bly die munsispaliteit se verantwoordelikheid om toe te sien na die gesondheid- risiko’s in hierdie verband soos uiteengesit in die munisipale regulasies.”
Inwoners het ook gevra oor die rioolverwyde-ringskedule, waarvan daar soms afgewyk word. Mle sê dat die verwydering van die riool is op standaard en dat hul absoluut volgens die skedule werk.
Wat die watersloot betref, is die munisipaliteit deeglik bewus van die probleem en is daar verlede week ’n opname voltooi en sal daar binnekort met herstelwerk begin word.
Inwoners is dit eens dat De Rust die eerste aansig is wanneer toeriste deur die area beweeg in Oudtshoorn se rigting, maar dat hul soms voel dat hul nes Dysselsdorp die stiefkinders van die munisipaliteit is wanneer dit kom by dienslewering.
Die munisipaliteit is egter geloof vir die goeie diens en flink optrede deur die elektriese- asook die water afdelings. (Deur Angelique Erasmus)