Die ses verdagtes wat in die hof op Oudtshoorn verskyn het op aanklagte van veediefstal, se borg-aansoek is uitgestel na 14 Februarie.
Anthony Booysen, Ebrahim September, William Oktober, Gregory Smit, Fransva Marnevick en Jenique Lewies het op Dinsdag 06 Februarie, in die hof verskyn vir hul borgaansoek.
Hulle is op 25 Januarie 2024 gearresteer, toe die polisie van Dysselsdorp op ’n aantal volstruis karkasse afgekom het.
Na verdere ondersoek het die polisie hul na ’n plaas in die omgewing geneem waar daar vasgestel is dat die volstruise vroeër gesteel is.
Die vonds, wat na raming R100 000 werd is, is positief aan die plaas gekoppel.
Die verdagtes sal in aanhouding bly tot hul volgende hofverskyning op 14 Februarie 2024, wanneer hul borgaansoek voortgesit sal word.
Al ses beskuldigdes het aansoek gedoen om regshulp. (Deur Lindi Brill)