ROSEBANK-INWONER Danielle Smith (29), ’n eggenoot, ma van twee en nou gekwalifiseerde verpleegster van Oudtshoorn, is baie dankbaar vir die hulp wat sy ontvang het om haar studies te kon voltooi en haar drome na te streef!
Die Hoorn het Danielle se storie in November verlede jaar vertel, toe sy fondse benodig gehad het, kort voor haar eindeksamen.
Sy het onverpoos probeer om haar studies by ’n plaaslike verpleegskool te voltooi.
Sy het wyd en syd na hulp gesoek.
Haar laaste opsie was om die koerant te nader en haar storie te vertel, met die hoop dat iemand dit sou raaklees, en moontlik kon help.
Danielle het toe vertel dat haar droom nog altyd was om ’n verpleegster te word, om in die teater te werk en mense te help.
“Maar dit is ook om saam met my man, Johliscio vir my kinders te voorsien. Hulle toekoms is baie belangrik,” het sy in November vertel. Haar seuntjie, Jean-Luc (9) is outisties, en woon Eljada-Kairos Skool op Oudtshoorn by.
“Hy is nou al die afgelope drie jaar in die outisme-eenheid daar, en doen baie goed.
Ek kry nooit klagtes oor hom nie, ek kry eintlik baie komplimente oor hom,” het sy trots gesê.
Haar dogtertjie Daschin is 3 jaar oud.
Danielle was met ’n jaarkursus besig waarvoor sy reeds R48 000 op haar eie kon insamel en betaal, maar sy het ’n verdere R12 000 nodig gehad om haar toe te laat om eksamen te skryf en haar uitslae te kry.
Met duidelike vreugde op haar gesig het Danielle weer onlangs by die koerant kom inloer om die goeie nuus met ons te deel dat sy die uitstaande fondse uit vele oorde ontvang het.
“Die reaksie uit die artikel was baie goed. Die meerderheid van mense het net goeie ‘comments’ op byvoorbeeld Facebook gelos. Daar was so twee of drie negatiewe ‘comments’, maar ek het my nie daaraan gesteur nie,” sê sy.
Haar storie het tot nou meer as 5 300 reaksies (“likes”), 259 kommentare en 270 delings (“shares”) op Die Hoorn se Facebook-blad ontvang.
Volgens Danielle was daar baie mense wat haar verwys het na plekke of mense toe waar sy moontlik kon hulp kry.
Vriende, familie en klasmaats het ook haar storie so ver moontlik versprei. “En dit het weer ander mense gelok wat dalk nie eers die storie gesien het nie. Op die manier het meer mense dit raakgesien, en so het die geld bietjie vir bietjie begin inkom,” vertel sy opgewonde.
Danielle sê dat meeste van die donasies tot haar studiegelde eers uit die Oudtshoorn-gemeenskap gekom het, maar dat daar op ’n stadium ’n stilte was, en sy toe steeds nie genoeg gehad het om al haar studiefooie te dek nie.
“Ek het begin bekommerd raak en gedink, ‘watter kant nou toe?’. Maar die Here se genade is groot, en toe kom daar iemand oor my pad. Mense het my na Gayton McKenzie, die burgemeester van Beaufort-Wes, toe verwys. Een van sy partygenote, Sydney James, was hier op Oudtshoorn, en hy bly eintlik naby my.”
Lang storie kort, het Danielle haar storie aan hulle verduidelik.
Eerstens was dit moeilik, hulle kon haar nie help nie, en dit het vir haar gevoel asof sy weer “tien tree terug” gevat het.
Maar sy het nie moed verloor nie!
Kort voor lank het James en ñ groep van sy kollegas, volgens Danielle, met befondsing na vore gekom, en die meerderheid van haar studiefooie is deur hulle betaal.
“Ek is so geseënd! En ek wil almal bedank vir hul ondersteuning en bydraes! Ek moet vir almal spesiaal dankie sê! My uitslae was uitstekend, en ek het baie hard gewerk daarvoor!”
Danielle sê sy moet eerlik wees dat sy nie weet hoe ver die storie werklik versprei het nie, maar dat sy ongelooflik dankbaar is.
Nou lê ’n blink toekoms voor haar. Om verder te studeer is ook nog ’n moontlikheid, sê sy. (Deur Stefan Skapie Goosen)
