Daleen en Madeleine vereer

Daleen Witbooi by die Kanna-toekennings­aand. Foto verskaf

Madeleine Miles by die Kanna-toekenningsaand. Foto verskaf

TWEE inwoners van Oudtshoorn is Maandagaand tydens ’n spoggeleent­heid in Kaapstad waar die Kanna-wenners vir 2019 bekend gemaak is, met spesiale toekennings vereer.

Hulle is Daleen Witbooi wat met ’n spesiale Kanna vir diens aan die KKNK vereer is, en Madeleine Miles wat erkenning gekry het vir haar reWOLusie-projek wat Oudts­hoorn spesiaal vir die fees in kleurvolle brei- en hekelwerk getooi het.

Witbooi is die afgelope 20 jaar ’n werknemer van die KKNK.

Hugo Theart, die fees se artistieke direkteur, het Witbooi se werks­etiek, onbaatsugtige diens en lojaliteit bestempel as “van onskatbare waarde”.

Miles se projek vergestalt volgens Theart die waardes en missie van Kunste Onbeperk en die KKNK.

Miles het die projek van stapel gestuur om samehorigheid, kreatiwiteit en betrokkenheid te bevorder en is van plan om dit aanstaande jaar verder uit te brei.

Poësieprojek
Die KKNK se nuwe poësieprojek is ook by die toekenningsaand be­kendgestel.

Dié projek is ter ere en ter nagedagtenis aan Santi de Jager, een van die hoeksteenleggers van die KKNK, wie se liefde vir poësie as inspirasie daarvoor gedien het.

Die projek sal bestuur word deur Theart en Eureka Barnard, bestuurshoof en projekbestuurder van die Suid-Afrikaan­se Sentrum vir Nederland en Vlaan­dere (SASNEV) in Kaapstad.

Kanna-wenners
Die debuutproduksie Koningin Lear ­het vanjaar agt Kannas gewen – vir beste teater­aanbieding én beste debuutwerk, terwyl Marthinus Basson die Kanna-prys vir die beste regisseur en beste teaterontwerp ontvang het.

Die akteurs in die stuk wat Kannas gewen het, is Antoinette Kellermann (beste aktrise), Anna-Mart van der Merwe (beste vroulike byspeler) en Edwin van der Walt (beste manlike byspeler).
Antjie Krog het die Kanna vir ’n uitnemende literêre bydrae ontvang vir haar vertaling van die oorspronklike teks.

Die Kanna vir die beste akteur het gegaan na Craig Morris (Johnny Boskak voel ’n bietjie…), die Kanna vir die beste opkomende kunstenaar na Devonecia Swartz (Jakkals en Wolf Onbeperk), die Kanna vir die beste musiekproduksie na My Mi­riam Makeba Story with Sima Mashazi, die Kan­na vir visuele kuns na ’n gesamentlike uitstalling van Donald Wasswa van Uganda en Onyis Martin van Kenia se Ima-gining

Tomorrow, die Herrie-prys na Rudi van der Merwe vir die outobiografiese stuk Lovers, Dogs and Rainbows en die Kanna vir tegniese uitnemendheid na Jaco Conradie vir die uitmuntende tegniese ondersteuning jaar­liks aan produksies by die fees.