Oud-Struisie wil nou Europa laat rock!

The Valley met Charl Stemmet (links), An­ton Louw en Le Roux Hofmeyr. Foto Frantz Birkholtz

Deur Angelique Erasmus
’N OUD-STRUISIE, Charl Stemmet (26) is een van die drie lede van ’n rockgroep, The Valley, wat gister na Europa vertrek het vir optredes in verskeie stede in Duitsland en Portugal. Hulle keer op 9 Mei terug.

Charl, wat op skool begin trom slaan het toe hy en drie van sy vriende ’n rockorkes op die been gebring het, is ook die bestuurder van The Valley. Hy het in 2011 aan die Hoërskool Oudtshoorn gematrikuleer.

Die ander lede van die groep wat in Kaapstad gebaseer is, is Anton Louw (sang en kitaar) en Le Roux Hofmeyr (baskitaar en sang).

“Daar is so baie wat die volgende drie weke gaan gebeur, maar ek sien baie daarna uit om voor verskillende skares op te tree en ander internasionale groepe te ontmoet,” sê Charl.

Hy vertel hulle is deur promotors in Duitsland genader om daar te kom toer, en het ook ’n agent in Portugal.

“Hierdie toer kan potensieel groot deure vir ons oopmaak. Ons is baie opgewonde,” sê hy.

Charl is die jongste van die vier kinders van Marlene en wyle Chris Stemmet van Oudts­hoorn. Sy suster, Esti-Mari de Jager, is die bestuurder van Afri­camps Oudtshoorn.