Anika droom al oor LA

Anike Thom (12). Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
NOG ’n jong Oudtshoorniet gaan waarskynlik later vanjaar as model aan die Wêreldkampioenskap vir die Uitvoerende Kunste in Los Angeles deelneem nadat sy ook die vakansie by die Suid-Afrikaanse Kampioenskap vir Uitvoerende Kunste presteer het.

Anika Thom (12), dogter van die bekende plaaslike haarstilis Delene Scholtz, het drie brons medaljes verower in die afdelings vir swemdrag, informele drag en die afdeling vir die mees fotogeniese mo­del.

Sy is gebore en getoë op Oudts­hoorn en ’n graad 7-leerder aan die Laerskool Wesbank.

“Ek wil graag vir my modeljuffrou, Riana Schmidt, baie dankie sê vir al haar moeite en opleiding, en ook vir die geleenthede wat sy vir my gegee het om te kon deelneem aan hierdie kompetisie,” sê Anika.

Anika doen reeds drie jaar model-werk en neem aan kompetisies deel. Sy sê sy probeer tans haar bes om genoeg fondse in te samel sodat sy wel in staat sal wees om na Amerika te gaan, aangesien reis- en ander koste baie hoog is.