Daar is weer hoop

Die Raubenheimerdam soos dit vandeesweek lyk. Foto: Johan Uys

DAAR is weer hoop in die Groter Oudtshoorn-omgewing nadat die Raubenheimerdam se vlak die afgelope week die eerste keer in jare weer tot meer as 70% gestyg het.

Die Raubenheimerdam, wat Oudtshoorn se drinkwater verskaf, het Dinsdag op 76,2% gestaan nadat 30 mm reën oor die naweek in die opvangsgebied geval het. Vrydag het die damvlak op 63% gestaan.

Die Melvilledam. waarvan die kapasiteit sowat 5% is van dié van die Raubenheimerdam, is 100% vol wat die gekombineerde damvlak op 81% te staan bring.

Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, sê daar kan nou as gevolg van dié styging, aandag geskenk word aan die hersiening van die huidige waterbeperkings.

“Ons is baie dankbaar oor die styging in die damvlak en sal die hulp inroep van waterkundiges oor die aanpassing van waterbeperkings.

Waterbeperkings kan slegs verander word deur ’n besluit tydens ’n raadsvergadering.”

Macpherson het die inwoners van die Groter Oudtshoorn bedank vir hul samewerking met die munisipaliteit die afgelope drie jaar om, sedert ’n droogteramptoestand verklaar is, water te bespaar.

“Ons wil inwoners egter versoek om voort te gaan om water spaarsaam te gebruik, veral met die warm somermaande wat voorlê, in gedagte. Ons moet almal onthou dat elke druppel belangrik is, en almal die gewoonte aanleer om water te spaar.”

Verlede jaar het die Raubenheimer se vlak in die laaste ses maande van die jaar tussen 37% en 50% gewissel, en vanjaar was dit dieselfde totdat die damvlak in September begin klim het nadat sagte reën ’n paar keer oor die gebied uitgesak het.

Ook hoop in landbougeledere
Ook in landbougeledere is daar nou meer hoop, sê Laubscher Coetzee, Agri Klein Karoo (AKK) se verteenwoordiger by Agri Wes-Kaap.

’n Vernietigende droogte het die landbou­bedryf in die Klein Karoo die afgelope jare in ’n wurggreep. Dié droogte word as die ergste in dekades bestempel, deur party selfs as die ergste die afgelope eeu.

Volgens Coetzee het veral boere naby die bolope van takriviere by die laaste weke se goeie reën in die berge gebaat. Plase laer af langs riviere soos die Olifantsrivier ervaar egter nog steeds ’n groot waterskaarste.

Hy sê tussen sowat 20 mm en 40 mm reën is in die bergagtige dele in die gebied gemeet, met sowat 40 takriviere wat begin vloei het.

“Opvolgreën is nou baie belangrik. Daar sal tussen so 70 tot 100 mm reën moet val voordat al die boere daarby sal baat.

“Maar ons voel darem nou meer positief as ses maande of ’n jaar gelede.” (Deur Liesel le Roux)

Be the first to comment on "Daar is weer hoop"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*