Covid-19 hou nie vakansie nie – gebruik dus gesonde verstand, vra Alan Winde

Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, op besoek aan een van die eetplekke in Langstraat Kaapstad. Foto verskaf

Covid-19 hou nie vakansie nie en versprei steeds regoor die Wes-Kaap en die land.

Dit was gister (Donderdag 9 Desember) die waarskuwing van die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, in sy weeklikse digitale perskonferensie.

Ramaphosa en Mkhize gevra: Geen lockdowns maar oorweeg aantal mense binnenshuis en boete vir nie-maskerdraers:
Winde sê hy het ’n plan aan pres Cyril Ramaphosa en dr Zweli Mkhize, nasionale minister van gesondheid voorgelê, waarin uiteengesit word hoe die Wes-Kaap op die nuwe Covid-19-golf reageer en waarin die provinsie vir bykomende hulpbronne vir brandpunte vra. Daar word ook gevra vir die heroorweging van die aantal mense wat – veral binnenshuis – in die huidige brandpunte mag vergader; asook moontlike optrede – soos ’n boete – teen mense wat weier om ’n lapmasker te dra.

Hy het gesê die Wes-Kaap is sterk gekant teen grendeloptrede (lockdowns) wat die ekonomie en mense se lewens kan verwoes. “In plaas daarvan het ons gelokaliseerde ingrypings nodig om die verspreiding te vertraag; ingrypings was gebaseer is op gesonde verstand en bewyse.”

Hoopvolle teken dat Tuinroete-piek naby is:
• Winde het ook gesê dat hoewel die aantal in infeksies in die Wes-Kaap steeds daagliks styg – ook onder gesondheidswerkers met 312 aktiewe Covid-19-gevallen tans onder hulle – is daar hoopvolle tekens dat die toename in gevalle, hospitalisasies en sterftes in die Tuinroete Distrik dalk nou sy piek bereik het.

“Daarom doen ek ’n beroep op elke persoon in die Tuinroete om hierdie eerste belowende teken van goeie nuus te gebruik as motivering om voort te gaan om u en u geliefdes te beskerm en alle nie-noodsaaklike byeenkomste gedurende die feestyd te vermy.” (Deur Liesel le Roux)

“Ons taak is nou om alles moontlik te doen om te verhoed dat ons en ons geliefdes deur die virus besmet word, of die virus versprei. As ons almal nou ons rol speel, kan ons voortgaan om ons ekonomie oop te hou en ons gesondheidstelsel te beskerm. Dit is die Desember-uitdaging wat ons almal moet aanvaar.”