Covid-19 eis nog ’n munisipale amptenaar

Donovan le Roux. Foto verskaf

Beeldmateriaal van Woensdag se stoet terwyl dit voor Donovan le Roux se woning in Elandstraat verbygery het. Die stoet was ’n eerbewys vir Le Roux deur sy kollegas.

’N TWEEDE amptenaar van die Oudtshoorn Munisipaliteit, Donovan le Roux (47), is oorlede nadat hy Covid-19 opgedoen het.
Le Roux, wat sedert 2013 as wets­toepassingsbeampte gewerk het, is Saterdag (12 September 2020) in die George Hospitaal aan Covid-19-verwante oorsake dood.
Pumzo Tofile, die hoof van regs­dienste by die munisipaliteit is einde Junie ook aan Covid-19-verwante oorsake oorlede.
Patrick Jordaan, hoof verkeers­dienste en wetstoepassing, sê Le Roux se dood is ’n groot verlies vir die gemeenskap. “Ons het ’n betroubare, eerlike en ywerige man verloor.”
Le Roux is op 25 Augustus in die George Hospitaal opgeneem nadat hy siek begin voel het.
Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, het sy simpatie betuig teenoor Le Roux se vrou, Nicolene, en sy twee kinders en kleinkind.
Wetstoepassers en kollegas van Le Roux het gisteroggend (Woensdag) as eerbewys in ’n stoet van die verkeersdepartement tot by sy huis in Elandstraat in Bridgton gery. Een persoon per voertuig is toegelaat om ’n krans of blom aan die familie te oorhandig. Die geleentheid is ook lewendig op Facebook uitgesaai.
Hy word Saterdag (19 September) ter ruste gelê. ’n Diens vind om 11:00 by sy huis plaas.