Coetzee sê dankie

Japie Coetzee Foto: Hoorn argief

Op Donderdag 15 Julie skryf Japie Coetzee, ’n bekende inwoner en oud-raadslid van Oudtshoorn die volgende inskrywing op sy Facebook.

“Vanaand bars die waterpyp voor my deur en so baie water loop in die straat af. Ons is nie by die huis nie en ons bedagsame buurvrou skakel die munisipaliteit.

Die manne daag op en met ligte en in die koue spring hulle aan die werk.

Die verwagting is dat hulle so 5 ure gaan besig wees en ons sonder water. Intussen kom ons ook huis toe.

Ek sit hier in my sitkamer voor die verwarmer en hoor hoe werk hulle.

Onwillekeurig dink ek aan die mense wat so kla oor oortyd-besoldiging.

Verwag ons dat niemand moes uitkom omdat dit na ure is nie en die water maar heelnag loop tot die werkers môreoggend 08:00 inval en dat almal more uit die werk en skool moet bly omdat daar nie water gaan wees om te was nie.

Daar mag egter gevalle wees waar werk binne werksure gedoen kan word, maar daar is egter ook gevalle waar dit noodwendig na ure gedoen moet word. Wanneer verwys word na oortyds-besoldiging, moet dit nie ’n ongekwalifiseerde uitspraak wees nie.

Ek gaan nou inkruip met die verwagting om danksy hierdie werkers, môreoggend die kraan te kan oopdraai om koffie te maak en ’n lekker stort te neem.

Oudtshoorn Burgemeester Chris Macpheason gee antwoord op Coetzee se inskrywing:

“Baie dankie vir die boodskap Japie Coetzee, en my opregte waardering aan die werkers wat dadelik reageer het. Julle het ten spyte van die weers-omstandighede, puik diens gelewer. Ons is trots op julle en ander wat altyd bereid is om julle deel te doen.”