Chanel draf 100 km in berge kaf

Chanel Rood Dinsdagmiddag nadat sy die naweek die Skyrun oor 100 km voltooi het.

Chanel Rood Dinsdagmiddag nadat sy die naweek die Skyrun oor 100 km voltooi het.

Die besneeude Witteberge wat deel vorm van die Skyrun-roete.

Die besneeude Witteberge wat deel vorm van die Skyrun-roete.

Chanel Rood kort nadat sy die Skyrun voltooi het. In haar hand is ’n “trekking pole” wat baie handig in die berge is.

Chanel Rood kort nadat sy die Skyrun voltooi het. In haar hand is ’n “trekking pole” wat baie handig in die berge is.

Rood se getroue oefenmaat, Casey.

Rood se getroue oefenmaat, Casey.

Deur Schalk le Roux
CHANEL ROOD, ’n jong fisioterapeut van Oudtshoorn, het die afgelope naweek die Skyrun Bergwedloop oor 100 km – wat as een van die moeilikste bergwedlope in Suid-Afrika beskou word – voltooi.

Die bergwedloop begin in die Oos-Kaap by Lady Grey 1 658 meter bo seespieël waar­na die op-en-af-roete ooswaarts oor die Witteberg lei tot by die War Trail Country Club. Die hoogste punt van die roete, wat klimwerk van 4 445 meter insluit, is 2 755 meter bo seespieël.

Wat vanjaar se Skyrun nog moeiliker ge-maak het, is dat gedeeltes van die roete met sneeu van 60 cm dik bedek was.

Rood (32) vertel sy het al onder meer twee Comrades Ultrawedlope, die Twee Oseane, die Baviaans­wedloop, driekamp en drie half­ystermanne voltooi, maar niks was naasten­by so uitmergelend as die Skyrun nie.

“Ons het Saterdagoggend om 04:00 by Lady Grey weggespring en die hele dag en nag gedraf en gestap. Ek het Sondag 10:20 klaargemaak.”

Daar was nege beheerpunte op die roete met water by drie en ’n ete by die halfpadmerk.

Volgens Rood is daar nie ’n uitgemerkte roete nie. Die roete lei oor verskeie berg-kruine en sluit voetpaadjies en viertrek-roetes is, maar groot gedeeltes is bloot net ruwe berglandskap. Rood het die roete met behulp van ’n kaart en ’n GPS gevolg.

“Dit was veral in die nag moeilik om met net ’n koplig rigting te hou. Gedurende die nag moes ons boonop kniediep deur die sneeu loop. Die temperatuur was in ’n stadium 4 grade Celcius benede vriespunt.

“Daar was ook ’n gedeelte naby aan die einde waar ons teen rotse moes afklouter. Gelukkig was dit toe al lig.”

Van die sowat 450 deelnemers wat die 100km- en die 65 km-bergwedloop begin het, het digby 100 dit nie voltooi nie.

Rood, wat een van net 19 vroue is wat die wedloop voltooi het, vertel sy het so halfpad ’n voetbesering opgedoen, maar dit het haar gelukkig nie verhinder om aan te hou nie.

Haar kommentaar oor haar ervaring: “Dit was baie extreme! Daar was nie ’n ledemaat aan my lyf wat nie seer was nie!”

Rood sê sy beoog om volgende jaar die Dryland Traverse aan te durf en sal dus nie aan 2018 se Skyrun kan deelneem nie.

• Rood is ’n Vrystater van geboorte en het op universiteit begin hardloop en fietsry omdat dit vir haar lekker is. Sy woon sowat ’n jaar lank op Oudtshoorn. Sy sê sy is baie dank verskuldig aan haar oefenmaat, Casey, ’n skaaphondkruising, wat sy by die Oudts­hoorn-diereskut gekry het.