Debra Hyde (middel), president van die Eden Tennisvereniging, saam met die span van die Wesbank Tennisklub wat Saterdag se toernooi gewen het. Van links saam met haar is Weh-meyer Ferreira, Christine van Coller, Rida Bester en Jacques de Beer. (Foto geredigeer.) Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
DIE Wesbank Tennisklub het Saterdag op George die eerste Eden Topguns-streekskampioenskap ge-wen en prysgeld van R10 000 vir die klub gewen.
Die kampioenskap word deur Growthpoint Eiendomme en Tennis Suid-Afrika geborg, met soortgelyke streekstoernooie in al veertien tennisprovinsies in die land waarvoor klubs hul beste spanne kan inskryf.
Die wenners van elke provinsie neem in 2018 aan die nasionale kampioenskap deel waarvoor prysgeld van R30 000 op die spel is.
Wesbank het teen twee spanne van George Tennisklub en een van Knysna Tennisklub gespeel. Die spanne het mekaar behoorlik opgekeil met aanskoulike tennis.
Die kampioenskap het in ’n rondomtalieformaat plaasgevind met mansdubbels-, vrouedubbels- en gemengde dubbelswestryde met spesiaal aange-paste reëls.
Die spanne van George Tennisklub en Wesbank Tennisklub het ná die dag se spel ewe veel punte gehad. Wesbank is egter as die wenners aangewys is omdat hulle George vroeër die dag met 2-1 geklop het.