Buitengewone donkie in Prins Albert gebore

DIE ooievaar het onlangs ’n draai by die Karoo Donkey Sanctuary gemaak en ’n buitengewone donkie is gebore.

Baba Hope, wat nes sy ma met ’n unieke wit-en-silwer pels spog, is in die vroeë oggendure van 13 Januarie gebore.

Sy ma, Snow White, is in Mei verlede jaar in Botrivier gered waar sy, ten spyte van die feit dat sy dragtig was, geslag sou word vir haar vel, wat in lande soos China baie gesog is.

Volgens Jonno Sherwin van Karoo Donkey Sanctuary word die velle vir medisinale doeleindes gebruik. Omdat die donkies per kilogram verkoop word, haal dragtige donkies hoër pryse. Daar word geraam dat 27% van alle donkiemerries wat in Afrika verkoop word, dragtig is.

Sherwin sê volgens die webwerf www.donkeysanctuary.org.uk word sowat 4,8 miljoen velle jaarliks na China uitgevoer.

Weens die hoë aanvraag na donkievelle, is daar volgens die Nasionale Raad van die Dierebeskermingsvereniging (NDBV) se webtuiste ’n groot toename in die steel en slag van donkies in Suid-Afrika. Hulle word in haglike omstandighede aangehou en wreed geslag.

“Baba Hope se genetika is ongelooflik skaars en ons beoog om sy vordering met die wêreld te deel as deel van ’n bewusmakingsveldtog om mense in te lig oor die skokkende hoeveelheid merries wat dragtig geslag word in hierdie aaklige donkiehandel,” sê Sherwin.

Sherwin en Johan Hugo het die Karoo Donkey Sanctuary in 2012 begin. Die reservaat is sowat twee kilometer buite Prins Albert geleë. Daar is tans sowat 220 donkies en 50 perde in hul sorg wat almal gered is van ’n gewisse, wrede dood.

Dit is die grootste reddingsentrum vir donkies en perde in Suid-Afrika en tot ’n groot mate afhanklik van skenkings. Besoek gerus hul web-tuiste of facebook-bladsy vir meer inligting. (Deur Angelique Erasmus)