Laaste dag op die ‘job’ vir Duppie

GISTER (Woensdag), was amptelik kapt. Wynand du Plessis (53), beter bekend as Duppie, se laaste werksdag by die Oudtshoorn-polisie. Hy was sektor 3 se bevelvoerder.

Volgens Du Plessis was die polisie van kleins af deel van sy lewe. “My ma en pa was in die polisie. My oom ook,” onthou Du Plessis.

Toe hy dus op ’n loopbaan moes besluit, was die polisiediens ’n logiese keuse.

Hy het groot geword by die polisiekollege in Pretoria waar hulle as gesin gebly het en het ook ná skool sy opleiding daar ontvang.

Du Plessis was die eerste twee jaar van sy loopbaan ’n lid van die wag-eenheid by Bryntirion Landgoed in Pretoria waar hulle ministers, ambassadeurs en ander baie belangrike persone (BBP’s) opgepas het.

Hy was later ook deel van die BBP-eenheid in Durban en daarna in Kaapstad. Hier het hy mense soos oud-president FW de Klerk opgepas, ander belangrike buitelandse persone, besoekende sportspanne en selfs die finaliste wat aan die 1992 Mej. Heelal-kompetisie deelgeneem het.

“Hulle was verskriklik mooi,” vertel Du Plessis glimlaggend. Om die wêreld se mooistes op te pas was een van die hoogtepunte van sy loopbaan.

In 1994 is hy oorgeplaas na die blitspatrollie-eenheid in Krugersdorp waar hy vir drie jaar gewerk het.

Hier was hy ook lid van die eerste antikapingseenheid.

“In 1997 is ek oorgeplaas Oudtshoorn toe waar ek begin skofte werk het en deel was van die misdaadvoorkomingseenheid,” sê hy.

In 2006 wag ’n nuwe uitdaging in George waar hy by die polisie-inspektoraat inval. Vir tien jaar het hy daagliks tussen Oudtshoorn en George gependel.

In 2016 word hy terugverplaas Oudtshoorn toe, waar hy aangestel word as bevelvoerder van sektor drie.

Hy’s bekend vir sy noue betrokkenheid by verskeie projekte in die middedorp asook Wesbank en die Noord-areas.

“Ek is ongelooflik trots op die wonderlike samewerking van die verskeie straatkomitees, en Whatsapp-groepe. Ek wil graag vir elkeen baie dankie sê daarvoor,” sê hy.

Die ondersteuning wat hy in sy tyd as sektor drie se bevelvoerder ontvang het van die private sekuriteitsmaatskappye. is een van die dinge wat hy wil uitsonder.

“Hulle het my werk baie vergemaklik.”

Hy wil ook vir Peter Gray, voorsitter van sektor 3 se gemeenskapspolisiëringsforum, Fanie Erasmus van die Wesbank-straatkomitee en Hennie Davel, wat die karwagprojek bestuur, bedank.

“Ook vir my vrou, Tania, vir al haar ondersteuning en hulp elke dag,”
Hy vertel dat die hoogtepunt van ’n dag was wanneer hy iemand kon help wat oor sy pad gekom het, “soos hy graag gehelp wil word, en die persoon stap tevrede weg.

Du Plessis sê hy gaan beslis sy kollegas mis, veral die grappies.

“Vir eers gaan ek ’n gap-jaar vat, eksotiese disse kook, lekker houtwerkprojekte aanpak en miskien oorsee reis.”

Du Plessis is die trotse pa en stiefpa van vyf kinders en een kleinkind (5), wat haar oupa se oogappel is. (Deur Angelique Erasmus)