BORGTOG van R500 is Vrydag in die Oudtshoorn Landdroshof toegestaan aan die 18-jarige Niven Donley wat van moord op ’n graad 11-leerder, die 18-jarige Franklin Lukas, aangekla word.
Niven is die vorige Sondagoggend in hegtenis geneem nadat Franklin op Saterdagaand 4 Julie 2020 in Rosehillstraat, Rosebank met ’n mes in die bors gesteek is en op die toneel gesterf het.
Die staatsaanklaer het ’n verklaring van een van drie staatsgetuies aan die hof voorgelees. Hiervolgens het Niven en Franklin gestry.
Niven het aangedui dat hy onskuldig sal pleit op die klagte van moord.
Hy sê in sy verklaring dat hy en vriende op die straathoek gesit en drink het en van Franklin se vriende hom glo met ’n graaf wou slaan en met klippe wou gooi. Hy het toe sy mes uitgehaal om homself te verdedig.
Hy het glo na Franklin gesteek, maar eers later gehoor dat hy dood is.
Die staat het nie borgtog teengestaan nie en landdros Johan Steynberg het borgtog aan Niven toegestaan omdat hy ’n eerste oortreder en nog redelik jonk is.
Hy moet egter totdat die saak afgehandel is, by sy ouma inwoon en nie met die drie staatsgetuies kontak maak nie.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 17 Augustus 2020 uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)