DIE Oudtshoorn Polisie is bekommerd oor die onlangse styging in diefstal vanuit voertuie, en vra die publiek om met die bekamping van hierdie misdade te help. Volgens polisiewoordvoerder kapt Louis Visser was daar ’n noemenswaardige styging in die diefstal “vanuit en vanaf” voertuie oor die laaste vier weke.
Onder items wat gesteel word, staan voertuigbatterye en klanktoerusting uit. Los items wat gesteel word, soos selfone, GPS-toestelle en ander waardevolle goedere is in die minderheid, sê hy.
“Hoewel sake wyd verspreid voorkom, is baie gevalle in Bridgton en Bongolethu aangemeld. Mense word gevra om motor- en trokbatterye te merk deur daarop te grafeer, en te poog om voertuie in goed beligte areas te parkeer,” het Visser gemaan. Hy het bygevoeg dat die publiek nooit enige waardevolle items in hul voertuie moet los nie, veral nie waar dit sigbaar van buite is nie.
“Die publiek is ons oë en ore en ons vra dat mense nie klanktoeruisting en batterye op straat koop nie. Die kans dat dit gesteel is, is groot.”
Die polisie vra die publiek om hulle in kennis te stel as hulle mense sien wat onder verdagte omstandighede rondbeweeg en om te help met inligting oor die volgende gevalle:
• Diefstal uit ’n voertuig in Cowleylaan op 8 Julie, waar ’n TomTom GPS en selfoon gesteel is.
• Diefstal uit ’n voertuig in Springbokweg op 8 of 9 Julie, waar ’n selfoon, leersak, Vodacom-baadjie en Tracker-logbook gesteel is.
• ’n Huisbraak in Welbedacht op 8 Julie, waartydens ’n rooi kompressor en vleissaag gesteel is.
Kontak ao Johnathan Stefaaf (044 274 4400/ 082 469 8224). Inligting sal vertroulik hanteer word. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Kommer oor diefstal uit motors
