Zaandri Scheepers (bo) en Elwiezel Gelant (onder). Foto’s verskaf
SATERDAG, 11 Junie 2020, was veronderstel om ’n aangename dag vir ’n groep jongmense van Ladismith te wees.
Dié dag het egter met ’n noodlottige ongeluk eindig waarin die pragtige Zaandri Scheepers (26) en die avontuurlustige Elwiezel Gelant (27) gesterf het.
Edward Nt’Sulongo lê tans in ’n koma in die George Hospitaal.
Die drie jongmense was met Edward se Volkswagen Polo sowat 30 km buite Ladismith op die R303 op pad toe die motor omstreeks 21:45 die pad byster geraak en deur ’n heining gebars het voordat dit tot stilstand gekom het.
Elwiezel, wat by die Parmalat Kaasfabriek gewerk het, is op die toneel dood.
Edward en Zaandri is per ambulans na die Alan Blyth Hospitaal op Ladismith gebring, waar Zaandri aan haar beserings beswyk het.
Volgens sers Chris Spies, polisiewoordvoerder, sal ’n nadoodse ondersoek gedoen word.
Edward se geskokte ouers het tydens ’n besoek aan hul huis hul seun as ’n versigtige bestuurder bestempel. Sy vrou, Desiree, sê hy is ’n stil, omgee-mens en ’n toegewyde pa vir sy kinders. Hy is ook ’n werknemer van Parmalat. Volgens Desiree is dit weens die Covid-19-pandemie nie tans moontlik om haar man te besoek nie.
“Ek bly egter biddend en hoopvol dat hy sal herstel en sal elke tree op die pad van herstel saam met hom loop,” het Desiree gesê.
’n Merkbaar aangedane Zelda Mentoor, adjunk-prinsipaal van Towerkop Primêr waar Zaandri tot graad nege skoolgegaan het, het net gesê: “Jammer, ek is te geskok om te praat. Dit kan nie waar wees nie… My engelkind”
Zaandri se ouers was nie met ’n besoek van Die Hoorn tuis nie. (Deur Deon Meyer)
