‘n Gautenger wat glo ‘n plaaslike sakeman uit meer as R500 000 bedrieg het nadat hy homself as ‘n advokaat voorgedoen het, verskyn weer Woensdag (21 April) in die Oudtshoorn Distrikshof nadat landdros Renê Gerber by sy vorige verskyning sy aansoek om borgtog geweier het.
Dale Harmse (50) staan tereg op klagtes van bedrog, diefstal en geldwassery en sal volgens sy regsverteenwoordiger, adv Riaan Pienaar, onskuldig pleit. Pienaar het in ‘n dokument van 27 bladsye die hof gevra om borgtog toe te staan omdat dit in belang van geregtigheid is en Harmse van mening is dat hy nie skuldig bevind kan word nie. Volgens Pienaar sal Harmse getuig dat hy hom nooit as ‘n advokaat aan die klaer of enige ander persoon voorgestel het nie en dra die klagtes teen hom nie water nie.
Die ondersoekbeampte, lt kol Max Mxabaniso, het borgtog teengestaan omdat hy van mening is dat Harmse moontlik kan vlug. Hy het 40 vorige veroordelings op sy rekord terwyl hy die afgelope tien jaar deur die polisie in Gauteng gesoek word en ‘n lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik is.
Volgens Mxabaniso het die staat ‘n baie sterk saak teen Harmse. Hy het nie enige bande in of om Oudtshoorn nie en daar is geen sekerheid dat hy sy hofdatums sal nakom nie. Voorts bestaan daar vrese dat hy met staatsgetuies sal inmeng, terwyl sy paspoort ook nie ingehandig is nie. (Deur Garnett Wicomb)
.