
Die Nel-familie van Boplaas Wingerde in Calitzdorp het verlede Woensdag, 22 Januarie, die eindresultaat van maande se harde werk aan hulle nuwe lokaal met gaste gedeel. Volgens Rozanne Nel, bemarker van Boplaas, het werk aan die twee nuwe lokale en die buite-area reeds teen die einde van verlede jaar begin en is in Januarie voltooi.
Boplaas is wêreldbekend vir hulle wyn, port, brandewyn en whisky en ryg elke jaar verskeie pryse in. Hulle proelokaal in Calitzdorp en die een in Hartenbos lok jaarliks duisende mense. Keldermeester en mede-eienaar van Boplaas, Carel Nel, het tydens die opening van die nuwe proelokaal gesê hulle moes die ou proelokaal opknap en het toe besluit om dit te vergroot.
Die oorspronklike proelokaal is in ’n ruim sitkamer omskep en ’n groot proelokaal is aangebou. Die kroegtoonbank in die lokaal is jare gelede deur die Nels gered toe dit uit ’n handelshuis op die dorp verwyder is.
Die smaakvolle interieur van die nuwe lokale is behartig deur Robin Rossouw wat etlike jare ’n huis op Calitzdorp besit het en tans ’n interieur-onderneming in George besit. (HANNES VISSER)