“Boeke & Blokkies vir Kleuters” is ’n inisiatief van Annatjie Muller, ’n klinieksuster werksaam in een van die primêre gesondheidsorgfasiliteite in Oudtshoorn. Sy word daagliks gekonfronteer met verskillende uitdagings wat die gemeenskap ervaar.
Muller het ’n passie vir die ontwikkeling van plaaslike gemeenskappe. Sy glo daaraan dat elke mens oor die potensiaal beskik om sy eie onmiddellike omgewing ten beste te verander.
Weens haar betrokkenheid by die breë gemeenskap het Muller die groot behoefte aan vroeë-kinderontwikkeling raakgesien.
Haar soeke na praktiese oplossings om die hele gemeenskap hierby te betrek het gelei na Albert Einstein, wie geglo het dat kleuters se intelligensie ontwikkel kan word deur die voorlees van stories. Die doel van hierdie projek is derhalwe om boeke vir kleuters (stories en Bybelboekies) en opvoedkundige materiaal (soos blokkies) te versamel en aan kleuterskole in die hele gemeenskap te versprei. Die jeug gaan ’n groot rol in die voorlees van boeke aan kleuters speel, asook om ontwikkelingsgroepe in die gemeenskap te begin.
Die klem word gelê op die voorlees van kinderstories en Bybelstories vir ongebore babas, peuters en kleuters. Kleuters sal deur voorlesings uit boeke goeie waardes soos eerlikheid, ’n verant- woordelikheidsin, dissipline, eiewaarde, spanwerk, betroubaarheid, integriteit, barmhartigheid en ‘n algemene positiewe geestesingesteldheid aanleer. Dit sal kleuters stimuleer om kreatief te dink.
Kinderbybels, kinderstorieboeke en opvoedkundige speelgoed kan geskenk word.
Daar is gemerkte houers by Pick n Pay, Oudtshoorn waarin dit geplaas kan word. Hierdie artikels sal dan deur ’n gekontroleerde sisteem na die behoeftige areas op ’n maandelikse basis versprei word.
Muller word bygestaan deur die Klein Karoo Camino asook die Helpende Hand se Oudtshoorn tak.
“Hierdie projek is ‘n noodkreet aan almal om te poog om ’n samelewing te skep waar liefde vir jou God en vir jou naaste met ’n passie uitgeleef word, en waar almal in harmonie met mekaar kan saamleef,” sluit Muller af.
Kontak Muller by 071 209 1977 of stuur ’n e-pos na annatjie@kleinkaroocamino.co.za om betrokke te raak of vir verdere inligting.