Gemeenskapsmark vir Oudtshoorn beplan

Die Hoorn, in samewerking met verskeie rolspelers, beplan ’n Gemeenskapsmark met vars en tuisgemaakte produkte, wat op 29 Junie 2024 vir die eerste keer aangebied gaan word.

Ons beoog om hierdie ’n maandelikse instelling te maak, vir elke laaste Saterdag van die maand. Neem asb. kennis, hierdie is nie ’n basaar of vlooimark nie.

Persone wat belangstel om ’n stalletjie te bespreek, kan vir Angelique Erasmus by Die Hoorn kontak op 076 606 2554.

Die vereiste vir die mark is vars of handgemaakte produkte soos vars groente en vrugte, vleis, eiers, heuning, varsgebak en blomme. Asook wyn, souse, konfyt, ingelegde of gevriesde produkte, sap, gedroogde vrugte of selfs ’n lekker varsgebakte pannekoek met suikersoet kaneelstroop, om ’n paar te noem. Handgemaakte klere, juwele, olies, seep, houtwerk ens. is ook welkom, veral met die koue wintermaande wat aangebreek het, sal ’n lekker gehekelde serp of sokkies handig te pas kom.

Daar is ook ’n opsie vir kattebakverkope. 2de handse items kan vanuit jou kattebak verkoop word op ’n gedeelte van die perseel. Meer inligting oor waar die mark beoog word, asook die tye sal nader aan die tyd bekendgemaak word.

Oudtshoorn het ongelooflike oulike mense met vele talente en wat ook die lekkerste lekkernye maak, en ons wil graag vir almal hierdie produkte maklik en binne bereik bring.

Ons is opgewonde oor wat hierdie geleentheid kan beteken, en hoop dat dit ook die gemeenskap bymekaar sal bring, waar almal lekker kan saamkuier en pret hê.

Daar sal ook ’n musiekvertoning wees deur plaaslike gunstelinge en ’n kontantkroeg.
Hou die koerant en ons Facebookblad dop vir meer inligting, en bespreek solank jou plekkie.

Be the first to comment on "Gemeenskapsmark vir Oudtshoorn beplan"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*