DAAR was Maandagmiddag groot blydskap by die Cango Wildlife Ranch buite Oudtshoorn toe dié dieretuin se driemaandoue papegaai Sebastian gevind en weer veilig terug by die huis was, sê Tammy Moult, assistentdirekteur van dié bekende toerisme-attraksie.
Sebastian, ’n blou-en-goue papegaai, is in ’n boom in die veld naby Mount Noah gevind nadat hy dit reggekry het om met sy jong vlerke en die hulp van die wind weg te vlieg. Inwoners van die omgewing het hom Maandagmiddag hoor skree en die Cango Wildlife Ranch daarvan in kennis gestel. Craig Gouws, dierkundige bestuurder, het hom na die plek gehaas en in ’n boom geklim om Sebastian te verwyder.
Ook Oudtshoorniete was opgewonde om te ver-neem Sebastian was weer veilig ná sy avontuur in die buitewêreld. Inwoners het saam help soek nadat hulle vroeg Maandagoggend op sosiale media gelees het dat hy die oggend in die rigting van Oewersig begin vlieg het, waarna sig van hom verloor is.
Moult sê almal is verstom dat so ’n jong voël dit kon regkry om so ver te kon vlieg. Volgens haar het ’n fris wind laat Sondagmiddag gewaai en het Sebastian dit reggekry om op ’n tak in ’n hoë bloekomboom te land.
Daar is besluit om hom dop te hou en vroeg die volgende oggend met die hulp van die Oudtshoorn Nooddienste en toerusting uit die boom te probeer verwyder.
Terselfdertyd het ’n bekommerde werknemer van die Ranch die nag in ’n motor by die bloekomboom geslaap om ’n oog oor Sebastian te hou.
Vyfuur Maandagoggend egter het Sebastian besluit dit is tyd vir ’n groter avontuur en in die rigting van Oewersig gevlieg.
Sig van Sebastian is verloor en terwyl daar hoog en laag na hom gesoek is, is die versoek dat inwoners op die uitkyk moet wees vir hom op verskeie plaaslike Facebookbladsye gedeel.
Moult sê inwoners het oral help soek en hulle het groot waardering vir dié hulp.
Sebastian en sy broer word met die hand by die Cango Wildlife Ranch grootgemaak. Hulle is papegaaie van Suid-Amerikaanse oorsprong, in Engels bekend as ’n Macaw, en sal volgens Moult deel word van ’n interessante nuwe projek wat die Cango Wildlife Ranch beoog. (Deur Liesel le Roux)
Blydskap oor Sebastian!
