Vullis nie verwyder nadat werkers begin staak

Foto: Die Hoorn-argief

VULLIS sal waarskynlik nie vandag in Oudtshoorn, De Rust en Dysselsdorp verwyder word nie nadat munisipale vullisverwyderingspersoneel en algemene werkers vanoggend begin staak het.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit het vroeër vandag (16 Februarie) ‘n dringende kennisgewing hieroor uitgestuur. Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woordvoerder, het die werkers nie vanoggend uitgegaan om vullis te verwyder nie. Die rede hiervoor is onbekend.

Mangqwengqwe sê dit is hoogs onwaarskynlik is dat vullis enigsins vandag verwyder sal word.

“Die munisipale bestuur skenk tans aandag aan die situasie. Ons sal inwoners ingelig hou.”

Hy het inwoners versoek om hul vullis van die sypaadjies te verwyder tot verdere kennisgewing.