Bloedjonk, maar gereed vir enige uitdaging

Die Groter Oudtshoorn se nuwe burgemeester, Chad Louw (24), vandeesweek in sy kantoor. Foto: Stefan Skapie Goosen

HY is wel die jongste burgemeester wat nog aan die stuur van die Groter Oudtshoorn munisipale raad was, maar Chad Louw (24) sê hy is hier om ’n verskil in die lewens van inwoners te maak, en gereed is vir énige uitdaging wat oor sy pad mag kom.

Met die nuus van Louw se verkiesing tot burgemeester op Woensdag 17 November by ’n raads­vergadering – wat soos blits op sosiale media versprei het – is daar heelwat kommentaar oor sy ouderdom gelewer. En baie wou meer van hierdie jong burgemeester weet wat so kalm en vriendelik met verskeie TV-kanale onderhoude gevoer het.

Die Hoorn het Maandag by Louw gaan aanklop om meer uit te vind. Ons wou weet wie is Louw, waar kom hy vandaan, en wat is sy plan vir die Groter Oudtshoorn, maar het baie meer gekry by hierdie vriendelike, nederige jong man.

Louw is ’n “gebore Dysselsdorper”, gebore en getoë so te sê. Beide sy ma en pa is in Dysselsdorp gebore en het daar grootgeword. Die gesin woon al die jare nog in Jumaatstraat. Hy sê dat hy van kleins af nie toegelaat het dat enigiets hom onderkry nie.

Toe hy drie weke oud was, het dokters vir sy ouers gesê dat hy moontlik nie sou oorleef nie as gevolg van moontlike breinskade en ’n gat in sy long. “Dokters het my familie ingeroep en gesê ek gaan dit nie maak nie. Maar soos in ’n wonder­werk, het ek oorleef. Op vierjarige ouderdom het ons egter besef ek kan nie meer loop nie.”

Hoewel hy te klein was om detail te kan onthou, onthou hy wel dat sy grootwordjare nie normaal was as gevolg van dié gesondheidsprobleme nie. Dokters het gesê hy sal na ’n spesiale skool toe moet gaan, maar sy ouers het in ’n “giant leap of faith” hom in ’n gewone crèche geplaas.

“Dinge het goed gelyk, en ek het weer die gebruik van my bene teruggekry te danke aan die spesialiste waarheen ons gegaan het en die fisiote­ra­pie wat ek ondergaan het. Uiteindelik het ek baie goed gedoen op laerskool, en ek was ek selfs hoofseun van St Konrad Primêr.”

Op hoërskool, waar hy in 2015 aan Dysselsdorp Sekondêr gematrikuleer het, het hy nog ’n leiers-posisie beklee nadat hy tot kaptein van die eerste rugbyspan gekies is. Sy gesondheidsprobleme as kleuter het duidelik nooit Louw se potensiaal ingeperk nie.

Dit was op hoërskool dat hy ’n voorliefde vir die media- en dramawêreld ontdek het, iets wat hom nou goed te staan kom wanneer hy in die openbaar met mense moet praat, of selfs een-tot-een met iemand moet kommunikeer. Hy het betrokke geraak by die I-School Africa Press Team, waar hy as aanbieder en selfs regisseur opgetree het met insetsels wat op
YouTube uitgesaai is. Dit is ook hier waar hy sy liefde vir mense ontdek het.

“Op skool reeds was ek gesteld op reg en ge­reg­tigheid. Ek het geglo ek moet opstaan vir mense, veral vir mense wat gevoel het dat hulle nie ’n stem gehad het nie. Ek wou mense uitdaag, en het altyd geveg vir wat reg is en ge­praat teen wat verkeerd is. Ek dink dit is waar die politieke kant in my uitgekom het, sonder dat ek dit besef het. Ek het alles bevraagteken, en ek wou opstaan vir wat reg is,” vertel Louw.

Hy skryf hierdie eienskap toe aan die manier waarop hy grootgemaak is, en praat met lof oor die impak van die I-School Africa-inisiatief op sy grootwordjare. “Ek het van jongs af geleer wat reg en verkeerd is, hoe om nederig te wees, en hoe om mense te respekteer. My grootwordjare was ook in geloof geanker.”

Na skool het Louw ’n jaar lank by City Varsity in Kaapstad gaan studeer, maar moes hy sy BA-graad in film en televisie opgee weens finansiële redes. Hy het later ’n geakkrediteerde kursus in film en televisie voltooi. Die feit dat hy sy graadstudie moes opgee, het nie sy drome gekniehalter nie, sê hy, en het hy jare in die televisiebedryf in Kaapstad spandeer. Hy was die regisseur van sy eie televisieprogram, Tweegesig, en het verder baie ondervinding in die bedryf opgedoen. Hy het agter die skerms in ’n reeks produksies gewerk, en selfs gehelp met die vertaling en oorklanking van oorsese sepies.

Hy het egter aanvanklik nie politieke aspirasies gehad nie; al was hy sedert 2017 by die ANC-jeugliga op Dysselsdorp betrokke. Hy vertel dat mense sy insette en betrokkenheid in die gemeenskap be­gin waardeer het, en hom polities probeer betrek het. Hy het liefdadigheidswerk, gefinansier deur foto’s wat hy geneem en verkoop het, in die ge­meenskap begin doen.

“Dit het lank gevat voor ek uiteindelik die politiek betree het. In 2017 was dinge nie so lekker in ons omgewing nie, en selfs my ouers het my aan­geraai om nie in politiek betrokke te raak nie.”

Die politieke gogga sou wel uiteindelik byt en hy het tydens sy verblyf in Kaapstad kursusse deur die Young African Leaders Initiative begin doen; onder meer oor hoe om plaaslike regering te verstaan, en oor ekonomiese ontwikkeling. Die Co­vid-19-pandemie het toe egter uitgebreek, en hy het teruggekeer huis toe.

In November verlede jaar het hy besluit om homself beskikbaar te stel as kandidaat in die plaaslike ver­kiesing. “Ek het gesien hoe sleg dit hier gaan, met dienslewering, behuising, die eko­nomie en die jeug, onder andere. Ek het gevoel dat ek ’n verskil wil maak, en deur die ANC se kandidaatproses gegaan,” sê hy.

Die mikpunt, volgens Louw, was nooit om burgemeester te word nie, maar bloot net om tot raadslid verkies te word sodat hy die beste vir sy gemeenskap kon verseker.

Na sy verkiesing tot raadslid is hy deur dieselfde proses om burgemeester te word. Louw vertel dat hy deur die ANC se interne prosesse gegaan het saam met ouer en meer ervare politici, en dat hy ge­lukkig was om verkies te word tot die party se burgemees­terkandidaat.

“Vir die wat sê ek is te jonk vir dié pos, kan ek bloot net sê dat ek deur my party se prosesse verkies is; ek het aan die kriteria en vereistes voldoen, en ek gaan my plig tot die beste van my vermoë uitleef.”

Sy fokus vir die Groter Oudtshoorn is om inwoners te kry om saam te werk. “Dit is slegs deur samewerking dat ons die dorp in alle aspekte gaan verbeter!”

Ekonomiese ontwikkeling, die uitbreiding van landbou en nywerhede, die verbetering van diens­lewering en infrastruktuur, en die opheffing van die jeug, is onder meer op Louw se lys van fokusgebiede.

Hy glo voorts dat dit belangrik is vir die jeug om op te staan en die Groter Oudtshoorn vorentoe te neem, maar ook dat die wysheid en ondervinding van die ouer generasie nog steeds van kardinale belang gaan wees.

“Ek leer self nog, en weet ons het daardie ondervinding steeds nodig.” (Deur Stefan Skapie Goosen)

2 Comments on "Bloedjonk, maar gereed vir enige uitdaging"

  1. Community Volunteer | 29/11/2021 at 21:17 |

    Dis jongmnse soos hierdie jongman wat ons nodig het in ons dorpe. En so ook in ons distrik munisipaliteite, so wel as provinsiale regering en Nasionale regering. Baie bly vir jou jongman. Kom wys vir al di ouer wyserige mense wat ñ jongmens aan bestuur kan doen as die geleentheid aangebied word. Sterkte Jongman. Vorentoe Jeugdigers aanstuur.

  2. Shaunelll | 26/11/2021 at 16:57 |

    X wens jou alle geluk n voorspoed toe chat vn dt x jy n jou familie ontmoet ht was x so bly om so nice mense te ontmoet sterkte

Comments are closed.