Beseerde munisipale werkers erg beswaard

Sewe van die ongelukkige beseerde werkers van die Oudts­hoorn munisipaliteit. Voor van links sit Robert Ntisimane, Roderick Damons en Gladman Mkwambi. Agter staan John Jansen, Francois Brits, Nico Manuel en Tanda Bantu Marenene. Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
DIE Oudtshoorn Munisipaliteit beskou werksbeserings van sy werknemers as interne kwessies tussen die werknemer en werkgewer en dit is nie die beleid van die munisipaliteit om werknemers se besonderhede met die publiek of media te bespreek nie.

So lui die kommentaar van die munisipaliteit op ’n navraag ten opsigte van klagtes van werknemers dat die munisipaliteit nie hul belange op die hart dra nie.

Die werkers wat almal beserings opgedoen het, sê hulle is ongelukkig omdat die munisipaliteit, volgens hulle, nie die nodige aandag aan hul situa­sie gee nie.

Volgens John Jansen wat sy linkerhand in ’n ongeluk verloor het, het hulle op 31 Januarie ’n vergadering met munisipale amptenare en die munisipale bestuurder, Allen Paulse, bygewoon. Paulse het egter volgens hom die vergadering na ’n rukkie verlaat. Die amptenare wat agtergebly het, het daarna volgens die werkers ’n opvolgvergadering beloof wat nog nie gerealiseer het nie.

Die beseerdes, party nog in diens van die munisipaliteit, kry steeds hul salarisse, maar sê hulle is “bitter ongelukkig” omdat die munisipaliteit sloer om te verseker dat hulle vir hul beserings vergoed word.

Jansen het sy linkerhand in 2017 in ’n masjien by die Dysselsdorp-rioolwerke verloor en nog nie daarvoor kompensasie ontvang nie.

Nico Manuel sê hy het in 1998 ’n borsbesering en in 2016 ’n laerugbesering opgedoen en is in 2017 ongeskik verklaar vir werk. “Ons word vir die wolwe gegooi,” sê hy.

Volgens Robert Ntisimane was hy ’n messelaar by die Oudtshoorn-rioolwerke toe hy ’n swaar mangatdeksel opgetel en sy rug beseer het. In 2017 het hy weer aan ’n mangat in Rocky Hill gewerk toe

’n kabel losgeskiet en sy een oog getref het.

Hy is vandag blind in die oog.

Gladman Mkwambi (57) sê hy het in 2012 onder die agterwiel van ’n vullistrok beland en is gelukkig dat hy nie dood is nie. Die munisipaliteit het heeltemal van hom vergeet, sê hy.

Volgens Tanda Bantu Marenene het hy in 2014 as trekkerassistent ’n nekbesering opgedoen en verduur hy steeds pyn.

Roderick Damons (52) sê hy het in 2011 ’n mangatdeksel opgetel en ’n breuk opgedoen.

Francois Britz wat ook op ’n vullistrok gewerk het, vertel dat hy in 2016 drie ribbes gebreek en ’n rugbesering opgedoen het. In 2017 het hy drie tone van sy regtervoet verloor.

• Die munisipaliteit het by ’n vorige geleentheid in ’n verklaring verduidelik watter stappe gevolg word wanneer dit kom by werksbeserings. Die munisipaliteit volg streng die riglyne soos bepaal deur die COIDA (Compensation for Occupational Injuries and Diseases Act), Wet 130 van 1993.

Dit is klaarblyklik ’n lang proses voordat ver­goe­ding vir blywende arbeidsongeskiktheid be­re­ken kan word. Vergoeding hang af van mediese be­- wysmateriaal wat in die vorm van mediese verslae aan die

Vergoedingsfonds voorgelê moet word.