Beseerde meerkatjie kry hier ‘n nuwe lewe

Scout, die Cango Wildlife Ranch se klein meerkatjie. Foto verskaf

Scout, die Cango Wildlife Ranch se klein meerkatjie. Foto verskaf

EEN van die nuwer inwoners van die Cango Wildlife Ranch net buite Oudtshoorn is ’n babameerkat wat sowat ’n maand gelede in ’n kartondoos na die Ranch gebring is.

Volgens Tammy Moult, assistent-direkteur toerisme by die Ranch, het ‘n man die meerkatjie gevang waar hy langs sy ma se lewelose liggaam in die middel van die pad net buite Oudtshoorn gesit het. Die ma is deur ’n kar getref en die reisiger wou nie gehad het dat dieselfde met die baba gebeur nie.

Die meerkatjie, ’n mannetjie wat na skatting ses tot agt weke oud was toe hy gevind is, is Scout gedoop.

“Ons het hom in ons diereversorgingsentrum opgeneem en vir die eerste paar dae melk met ’n spuitnaald gevoer. Later het ons vir hom vaste kos soos hoender begin gee,” sê Moult.

Volgens haar het hy geheg geraak aan sy versorgers wat tans hard daaraan werk om natuurlike meerkatgedrag by hom aan te moedig. Scout sal by die Cango Wildlife Ranch aanbly. Diere van 89 verskillende spesies word tans daar gehuisves.

“Dit is ook belangrik om te weet dat hierdie diere nie troeteldiere is nie. Dit is ook belangrik dat mense besef dat dit onwettig is om wilde diere wat siek, beseer of wees is sonder die nodige permitte en lisensies te probeer rehabiliteer.”

Moult het mense aangemoedig om versigtig te bestuur en fasiliteite soos CapeNature te kontak as hulle beseerde diere op en langs paaie vind.