VLAK 6 – WATERBEPERKINGS en noodtariewe is die week met onmiddellike effek in De Rust, Dysselsdorp en omliggende landelike gebiede ingestel. Terselfdertyd is Oudtshoorniete versoek om dringend water te bespaar om te voorkom dat waterbeperkings ook in die dorp ingestel word.
Die gebiede waar die streng Vlak 6-beperkings reeds ingestel is, se water kom van boorgate van die Klein Karoo Landelike Waterskema (KKLWS). As gevolg van beurtkrag kan daar nie voldoende water uit die boorgate gepomp word om in die behoefte te voorsien nie.
Die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het Dinsdag in ’n persverklaring ’n beroep op inwoners van Oudtshoorn gedoen om hul watergebruik drasties te verminder om waterbeperkings te voorkom.
Waterverbruik van inwoners het die afgelope maande drasties gestyg tot ’n massiewe 17,5 ML (megaliter) per dag terwyl die Raubenheimerdam, Oudtshoorn se drinkwaterdam, se vlak verlede week tot onder 80% gedaal het en reënvooruitsigte nie tans goed lyk nie.
Streng waterbeperkings is einde 2021 in die Groter Oudtshoorn gelig na goeie reën ’n jarelange droogte gebreek het.
So sal waterbeperkings op Oudtshoorn lyk as damvlak tot onder 75% daal:
Sodra die damvlak tot onder 75% val, word Vlak 4-waterbeperkings ingestel.
Vlak 5-waterbeperkings geld as die damvlak onder 60% daal en Vlak 6-beperkings as dit onder 50% daal.
Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, het die week inwoners gevra om saam te werk om water te bespaar.
Inwoners wat waterbeperkings oortree, sal op die plek boetes deur wetstoepassers opgelê word. (Deur Liesel le Roux)
Beperkings kom vir Oudtshoorn as verbruik nie drasties afneem
