Navorsing wys 20% van toeriste uit Indië

Jagdeep Multani (restaurantbestuurder) en Tammy Moult (voorsitter van Oudtshoorn Tourismekantoor en assistant-direkteur van die Cango Wildlife Ranch). Foto: Christine Schoeman

NAVORSING van die Cango Wild­life Ranch op Oudtshoorn toon dat sowat 20% van hul besoekers af­koms­tig is uit Indië, sê Tammy Moult, voorsitter van Oudts­hoorn en De Rust Toerisme en assistent-direkteur van Cango Wildlife Ranch.
Moult het verlede Woensdag (26 Oktober) by ’n toerismenetwerkaand by die Wildlife Ranch verskeie inte­ressante feite oor die demografie van besoekers aan Oudtshoorn gedeel.

Volgens haar het navorsing van die Wildlife Ranch voorts getoon dat dié besoekers slegs dagbesoekers is en nie op Oudtshoorn oorslaap nie om­dat die dorp nie voorsiening maak vir hul dieetvoorkeure nie.

Op grond hiervan is ’n nuwe res­taurant, Monsoon, met ’n halaal-kom­­buis pas op hul perseel geopen. Dit bied eg Indiese vegetariese disse.

Die restaurant se drie sjefs, Jag­deep Multani (restaurantbestuurder), Lokesh Jatt en Bherulal Meneria, is al drie vanaf Indië.

“Met die restaurant poog ons om Indiese toeriste langer in Oudtshoorn te hou, sodat hulle plaaslike akkom­mo­dasie kan gebruik en daar ook ongelooflik baie besienswaardighede in die omgewing is wat nie op een dag be­soek kan word nie,” sê Moult.

Oudtshoorniete kan ook vanaf die spyskaart kos bestel en dit as wegneemetes huis toe neem by tel 044 272 5593.

Gaste is die aand met ’n ware smaakavontuur ’n voorsmaak gegee van die restaurant se kos.

Die netwerkaand is ook bygewoon deur die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, en verskeie raadslede. (Deur Angelique Erasmus)