DIE Oudtshoorn Munisipaliteit het sy prokureurs opdrag gegee om alles in hul vermoë te doen om meer as R9 miljoen in te vorder van twee voormalige amptenare van die munisipaliteit, Ronnie Lottering en Lionel Prins.
Regter NC Erasmus het op 19 Oktober in die Hooggeregshof in Thembalethu opdrag gegee dat Lottering R7,88 miljoen en Prins R1,18 miljoen aan die munisipaliteit moet terugbetaal. Hulle is skuldig bevind aan ongemagtigde betalings en die oortreding van die munisipale finansiële bestuurswet nadat Lottering in 2014 sonder magtiging ’n kontrak met Imvusa gesluit het om slaggate te herstel.
Die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, het in reaksie gesê hoewel die wiele van geregtigheid stadig draai, wys die uitspraak dat amptenare wat dink hulle kan munisipaliteite vir selfverryking misbruik, aanspreeklik gehou sal word.
“Hierdie is egter nie die einde nie,” het hy bygevoeg. Volgens hom is ondersoeke deur die Valke rakende beweerde oortredings voor 2016 ook steeds aan die gang en sal oortreders aanspreeklik gehou en aangekla word.
• Lottering het as munisipale bestuurder waargeneem die twee jaar voordat die munisipaliteit in 2016 onder administrasie geplaas is, en Prins in dieselfde twee jaar as direkteur gemeenskapsdienste.
Die slaggatprojek het die munisipaliteit meer as R19 miljoen gekos, waarvan Imvusa R11,2 miljoen ontvang het
Imvusa het aanvanklik die hof genader om die munisipaliteit vir ’n bykomende R4,3 miljoen te dagvaar, maar die hof het dié eis in 2021 van die hand gewys. Die munisipaliteit het daarop die hof gevra om te beslis wie verantwoordelik was vir die ongemagtigde betalings aan Imvusa. (Deur Liesel le Roux)
Opdrag aan prokureurs – vorder dié meer as R9 miljoen in!
Ronnie Lottering