Bekende sakeman al weke in hoësorg

Hennie Davel. Foto: Die Hoorn

Inwoners van Oudtshoorn het die week in gebed verenig vir ’n bekende sakeman van die dorp, Hennie Davel, wat in die hoësorgeenheid van die Mediclinic George behandel word nadat hy met Covid-19 gediagnoseer is.

Davel is die eienaar van Y-Not Eiendomme op Oudtshoorn en baie betrokke by die dorp se gemeenskap. Hy is ook al meer as ’n dekade ’n bestuurslid van die Oudtshoorn Besigheidskamer.

Sy seun, Petrie, sê sy pa is aanvanklik in die Mediclinic Klein Karoo opgeneem en daarna oorgeplaas na die Mediclinic George. Hy word al vier weke lank behandel.

’n Vriendin, Annemarie Jansen van Rensburg, het mense Woensdag op Facebook versoek om vir Davel te bid: “Hennie veg baie hard teen die pes van ’n virus. Bid asb vir hom? Hennie se mense het hom so nodig. Baie baie baie dankie! God met hom en elkeen van julle.”

Volgens ’n latere inskrywing van Jansen van Rensburg is Davel se familie oorval deur blyke van belangstelling en honderde oproepe. Sy het mense versoek om eerder Facebook dop te hou vir inligting oor Davel en nie te bel nie en so die familie die geleentheid te gun om op sy herstel te fokus.

Jansen van Rensburg het ook ’n boodskap van Davel se vrou, Petro gedeel, waarin sy skryf dat sy ’n video-oproep na hom kon maak en hy beter gelyk het. “Terwyl ek met hom gepraat het, het ek agtergekom dit gaan vir ’n oomblik beter met die praat. Ek sê dit toe vir hom, waarna hy antwoord: Ek het nou ’n bietjie meer asem gekry. Kom ons vertrou net op die Here. Dankie vir elke boodskappie. Weet ons waardeer dit.”