Begroting Vrydag weer in raadsaal

Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Chris Macpherson, het sy bekommernis Dinsdag uitgespreek nadat die begroting nie tydens Maandag 3 Junie se spesiale raadsvergadering goedgekeur is nie.

Tydens die vergardering het lede van die VF+. Icosa, Saamstaan en die ANC teen die begroting gestem.

Drie opposisie partye, OGI, PA en Advieskantoor het saam met die DA die begroting gesteun.
Macpherson het gesê dit is kommerwekkend dat die vergadering wat op 31 Mei moes plaasvind reeds een keer uitgestel is tot Maandag en nou weer tot Vrydag 7 Junie.

“Dit beteken dat die munisipaliteit gevaar loop om voorgeskrewe finansiële wetgewing nie na te kom nie en loop munisipaliteit die gevaar om onder administrasie geplaas te word,” het hy in ’n verklaring gesê.

“Dit is tragies dat hulle nie aan al die voorafgaande begrotingsbeplanningsessies deelgeneem het en voor die begroting met voorstelle gekom het nie.

Optrede soos hierdie kan dienslewering aan die gemeenskap erg benadeel.” sluit Macpherson af. Twee nuwe raadslede is ook tydens die vergardering ingesweer. Hulle is Deandro Booysen van Advieskantoor en Bertram Jantjies van die PA.