Geliefde ontwerper sterf aan hartaanval

Christiaan Ras is verlede Sondag aan ’n hartaanval oorlede. Foto: Facebook

Die bekende en geliefde mode ont-werper van Oudtshoorn, Christiaan Ras (46) van Christiaan Ras Bridal & Fashion Design, is Sondagmiddag by sy huis aan ’n hartaanval oorlede.

Huldeblyke het ingestroom met die nuus van Ras se dood. Op Facebook het menigte van sy kliënte hul foto’s gedeel van die pragtige rokke wat hy vir hulle gemaak het.

Ras het hom 9 jaar gelede in Oudts-hoorn kom vestig vanaf Pretoria, en is vir die afgelope 5 jaar alleeneienaar van die boutique in die Seppi Greeff gebou in Voortrekkerweg.

Volgens Anthea van Heerden, eienaar van Coco Boutique en ook sy jarelange vriendin, was Ras ’n besonderse mens wat baie lief was vir sy kliënte, en sy kliënte vir hom.

“Hy was ’n ‘giver’ en hy het só ’n goeie hart gehad”, het Van Heerden aan Die Hoorn gesê.

Sy vertel verder dat hy alles van homself in elke rok gesit het, sodat hy die beste vir elke kliënt van homself kon gee.

Ras het ook elke jaar kinders gehelp met matriekafskeidrokke wat dit nie kon bekostig nie, en hy het ook rokke vir skole se modeparades geborg.

Daar sal Maandag tussen 11:00 en 12:30 ’n eerbetoning vir Ras gehou word by sy boutique in die Seppi Greeff-gebou in Voortrekkerweg. (Deur Lindi Brill)