Jean Arries.
Deur Garnett Wicomb
’N JONG man van Oudtshoorn wat ’n bejaarde inwoner van die dorp in die begraafplaas van haar motor beroof en ook ’n minibustaxi gesteel en ’n ander vrou probeer ontvoer en beroof het, is Maandag in die Oudtshoorn Streekhof op sy eie bekentenis skuldig bevind.
Geraldo Philander (19) het in ’n pleitverduideliking erken dat hy op 25 Maart vanjaar die 81-jarige oud-onderwyseres, Jean Arries, in die begraafplaas van agter om die nek gegryp het terwyl sy besig was om haar man se graf skoon te maak.
Arries was jare lank voorsitter van die Oudtshoorn Rooi Kruis en ’n vrywillige werker vir Kansa.
Sy is in 2012 deur Die Hoorn met ’n spesiale toekenning vereer vir haar liefdeswerk in die gemeenskap.
Arries het geval nadat Philander haar aangerand het, en hy het met haar Toyota Tazz weggery.
Verskeie inwoners het ingespring en die polisie help soek nadat dit bekend geword het dat haar motor ge-steel is.
Die motor is kort daarna deur die polisie teruggevind.
• Philander het ook erken dat hy op 10 Mei vanjaar die Quantam minibustaxi van Markus Saptouw in Panoramastraat, Rose Valley sonder toestemming geneem en daarmee na George gery het.
Hy is na die taxi-staanplek waar ’n vrou, Sandra Tarentaal, in die taxi geklim het omdat sy dit geken het. Hy het daarna met haar in George rondgery en later in die rigting van Heroldsbaai gery.
Hy het op ’n grondpad stilgehou, haar met ’n mes gedreig en van haar selfoon en R800 kontant beroof. Tarentaal het volgens die staatsaanklaer, Corné Pretorius, die mes by Philander gegryp en weggehardloop.
Philander is skuldig bevind aan roof, die gebruik van ’n voertuig sonder toestemming van die eienaar asook roof met verswarende omstandighede en die saak is deur streeklanddros Neels Nortje vir ’n korrektiewe verslag en slotargumente tot 12 Desember uitgestel.
Volgens die staatsaanklaer het Philander nie vorige veroordelings op sy rekord nie.