42 jaar al ’n leerkrag

Alida le Vack van die Laerskool Bergsig in Oudtshoorn met haar langdiens-toekenning.
Foto verskaf

’N LEERKRAG van Laerskool Berg­sig in Oudtshoorn. Alida le Vack, is op Saterdag 10 November in Kaapstad by ’n spesiale geleentheid vereer vir haar jarelange diens as onderwyser.

Sy het by die geleentheid haar 40 jaar-langdienstoekenning van die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schafer, ontvang, en bestempel dit as ’n hoogtepunt van haar onderwysloopbaan van 42 jaar.

Le Vack is ’n gebore Schoemans­hoeker, die jongste dogter uit ’n gesin van 12 kinders van John en Mary Arries. Haar pa was ’n bekende boer in die vallei.

Sy het skoolgegaan aan Rodewal Primêr in Schoemanshoek en Hoër­skool Môrester, en haar senior sertifikaat deur die Sukses Korres­pon­densie­kollege behaal. Haar onderwysopleiding verwerf sy aan die Oudtshoorn Kollege Suid-Kaapland (OKSK) en later ook die Gevorderde Onderwyssertifikaat asook haar B Ed Honneurs aan die Noord­wes Universiteit. Oor die jare het sy skoolgehou by Protea Primêr, Heimersrivier NGK Primêr, en Dysselsdorp Primêr waar sy 25 jaar onderwys gegee het.

Haar dogter, Stephanie le Vack, sê hul gesin is baie trots op hul ma en haar suksesvolle loopbaan as onderwyser. “En dit het sy alles gedoen met ’n man en drie kinders by die huis!” sê Stephanie.