64-jarige bekende vas vir verkragting

Deur Liesel le Roux
’N 64-JARIGE man van Calitzdorp wat in hegtenis geneem is vir voorvalle van die verkragting en seksuele aanranding van twee minderjarige meisies, verskyn weer op 7 Desember in die Calitzdorp Landdroshof.

Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, is die man op Sondag 4 November deur die ondersoekbeampte verbonde aan die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings, in hegtenis geneem.

Die man, klaarblyklik ’n bekende op die dorp, het die eerste keer op Maandag 5 November in die plaaslike landdroshof verskyn.

Pojie sê die klagtes hou verband met voorvalle wat oor ’n tydperk van twee jaar plaasgevind het.

Die man bly in hegtenis tot 7 Desember.

Hy sal moontlik tydens sy volgende hofverskyning vir borg aansoek doen.

Pojie sê die polisieondersoek gaan steeds voort.